Ai, die vreugde van ’n nuwe skildery teen jou muur of selfs ’n mooi bak in die kombuis. Is inkopieterapie nou regtig verkeerd? vra Luisa van der Linde in ons 11 Maart-uitgawe. Hier is nog raad
HAAL SÓ DIE BESTE UIT JOU INKOPIETOGTE
In plaas daarvan om die winkels totaal en al te vermy as jy weet inkopies help om jou te laat ontspan, probeer die volgende:
- Sit geld eenkant vir “af dae”. Hou ‘n spaarfonds gereed vir daai dae wat alles skeefloop en gaan kies dan ‘n mooi bos blomme of fleurige rok om jou te troos. Moenie jou kredietkaarte saamneem nie, vat net die spaargeld. As die geld klaar is, gaan huis toe.
- Teken uit op al die e-posbriewe wat jou van spesiale aanbiedinge by jou gunstelingwinkels laat weet. Dié lokartikels stel jou in die versoeking om goed te koop wat jy nie noodwendig nodig het nie.
- Herorganiseer jou klerekas gereeld. Haal klere uit wat jy lanklaas gedra het. Of bêre ‘n gunstelingrok of truitjie vir ‘n paar weke weg. Probeer ook om sierkussings in jou huis te roteer. Of gaan krap daardie erfstuk-tafeldoek vir ‘n paar weke uit die kas en maak jou huis mooi eerder as om winkel toe te gaan.
- Begin ‘n nuwe stokperdjie soos hekel of sluit by ‘n sportklub aan. Wanneer jy lus is om winkel toe te gaan, besluit doelbewus om eerder te hekel of by die klub te gaan oefen.
- Hou altyd ‘n lysie van items wat jy moet koop byderhand. As jy lus is om winkel toe te gaan, koop net wat op die lysie is en merk dit af.
- Besluit op ‘n klein bedrag wat jy maar kan spandeer wanneer jy die dag af voel. Koop dan ‘n geurige kers om mee te bad, ‘n nuwe tydskrif of ‘n ander geur tee as wat jy normaalweg drink.
- Los al jou kredietkaarte en geld by die huis en gaan loop in ’n winkelsentrum rond.
NOG BRONNE
Hanna Kok, skrywer, lewenstylafrigter en innerlike gesondheidstrateeg: [email protected]