Alto Wynlandgoed vier vanjaar 100 jaar se wynmaak-erfenis
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Dié viering is meer as net ’n mylpaal; die geleentheid herroep die trotse geskiedenis van ’n Stellenbosch-kampioen en die mense wat dit moontlik gemaak het. ’n Groep wynliefhebbers is na die plaas genooi om die geleentheid saam met die huidige wynmaker, Bertho van der Westhuizen en sy pa, Schalk, die plaas se vorige wynmaker te geniet.
Die Alto-storie is verweef met plaaslike- en internasionale toekennings, maar dit is nie die enigste maatstaf vir sukses nie, glo Bertho. “Alto het nog altyd so getrou moontlik aan die terroir gebly. Dis ’n credo wat jy kan terugvolg tot die heel eerste wyne.”Alto se wingerde het van 1919 soos ’n reeks foto’s wat stadig van greinerige wit-en-swart na oordadige volkleur ontwikkel het, ’n fokuspunt op die landskap gebly.
Die afgelope 20 jaar is ’n reuse herplantingsprogram aangepak, waar omtrent elke wingerdstok op die plaas vervang is. Cabernet Sauvignon en Cabernet franc oorheers die plaas se 92 hektaar wingerde, tesame met kleiner blokke Merlot, Petit Verdot en Malbec.
Alto se titel-akte dateer terug na 1693, hoewel die handgemaakte rooiwyne se geskiedenis 100 jaar terug met Manie Malan begin het, toe hy sy pa, Hennie, gehelp het om die eerste wingerde aan te plant. Hy het die plaas se unieke aspek, grond en hellings wat ideaal was om volronde rooiwyne te lewer, raakgesien.
Die plaas is as Alto hergebore, wat dui op beide die ligging én die familie se strewe na uitmuntendheid. Kort ná die eerste oes het Manie sy mentor, die legendariese Prof. Izak Perold, genooi om die wyne te proe. Prof. Perold was só beïndruk dat ’n besending na Londen gestuur is – wat die dekades-lange verhouding met Britse invoerders ingelui het. Sy rooi-versnit het die prototipe vir die Alto Rouge geword.
Die Malans het die wingerde vir vier dekades versorg en uitgebrei, voor die plaas in 1959 aan Piet du Toit – ’n vierde generasie wynmaker – verkoop is. Hy het in 1965 nie alleen Alto se eerste Cabernet Sauvignon vrygestel nie, maar ook ’n span deskundiges aangestel om die nuutste wetenskaplike navorsing in te span, om die aangeplante variëteite se volhoubaarheid te beoordeel.
Hy het in 1983 – pas nadat die nuwe kelder gebou is – afgetree en die leisels aan sy seun, Gerhard, oorgegee. Gerhard wat alombekend is as “Hempies”, het op Alto grootgeword. Hempies het die vaandel by sy pa oorgeneem en die vyfde generasie in ’n Suid-Afrikaanse lyn Hugenote-wynmakers geword. Onder sy wakende oog het Alto as ’n raar en vertrouenswaardige kelder onder wynliefhebbers ontwikkel, wat verder versterk is toe die landgoed in 2001 sy eerste Shiraz vrygestel het, wat uit die wingerde wat Hempies geplant en versorg het, afkomstig was.
Teen die draai van die eeu is die vaandel weer oorgee en het dit ’n nuwe era vir Alto, onder leiding van die ervare wynmaker, Schalk van der Westhuizen, ingelui. Hy het ook aansienlike uitbreidings op die plaas oorsien. Dit was Schalk wat Alto se vlagskip, die M.P.H.S, wat hulde bring aan die bekende landgoed se stigter-wynmakers, wie se voorletters die naam opmaak, in 2010 vrygestel het.
Bertho het, net soos van sy voorgangers, tussen die wingerde waarvoor hy jare later verantwoordelik sou wees, grootgeword. Hy word as hervormer gereken en het vars idees en vernuwing na Alto se wyne gebring, toe hy in 2015 by pa Schalk oorgeneem het. Daardie jaar was een van Suid-Afrika se beste oesjare én die jaar toe Bertho die Alto landgoed se Bordeaux Blend, vrygestel het.