Wade Bales Wine & Malt Whisky Affair Kaapstad is verlede week gehou en volgende aan die beurt is Johanneburg en Durban
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Dié jaarlikse gebeurtenisse wat by stylvolle plekke in die stad gehou word, bied aan gaste die geleentheid om nie net raar wyne te proe nie, maar ook beperkte oplaag whiskies en om met die wynmakers en distilleerders self te gesels.
Die Kaapstad geleentheid is by die pas opgeknapte 15 on Orange Autograph Collection Hotel gehou en die organiseerder, Wade Bales, ’n gerespekteerde wyn- en spiritus-handelaar, sê die onderskeidende faktor by hierdie geleenthede is dat die mense wat die proe aanbied, heel dikwels dieselfde persoon is wat die wyn of whisky gemaak het. By vele ander wynskoue is dit onverwante aanbieders, maar hier kry gaste die kans om al die vrae rondom hul spesiale drankie te vra.
Gaste kon meer as 200 wyne en whiskies proe, maar die groot opwinding van die aand is die Halftyd-klok, waar gaste vir slegs 15 minute ongelooflike raar en beperkte oplaag whiskies en wyne kan proe, wat andersins onder die toonbank weggesteek word. Tussendeur het die tafels onder die kaas, brood, olywe, neute en druiwe gekreun. Gaste kon dus nie net die lekker drankies geniet nie, maar dit ook met voortreflike kaas en vrugte pasmaat. Voor elke aand se amptelike geleentheid van 18:00 tot 21:00, het whisky-huise van regoor die wêreld die geleentheid gehad om privaat-proeë aan klein groepies te bied.
Ons was die gaste van Bunnahabhain van die eiland, Islay, wat hul 12 jaar oud en hul Ceòbanach (Kwaaibenag uitgespreek) aangebied het en daarmee saam die Deanston enkelmout whisky. Die proe is gelei deur die ervare Keeper of the Quiach en whisky ambassadeur, Alan Shuman. Hy het whiskies van dieselfde ouderdom se kleur met mekaar vergelyk om te bewys dat ouderdom nie die kleur aan whisky verleen nie, maar wel die eikehoutvat waarin dit verouder is. Die graad waarin die vat gerooster word, beïnvloed die kleur. Sowat 70 persent van die kleur is aan die vat toe te skryf en 30 persent aan die distilleringsproses.
“Whisky word nou al in meer as 30 lande regoor die wêreld gemaak en in lande soos Frankryk, word daar meer whisky in een maand gedrink, as konjak in ’n jaar.” Hy het aan die gaste gewys dat die regte manier om whisky te proe, is met ’n effense oop mond en die reuk stadig deur die neus te ruik. Deur jou mond effe oop te hou, word die whisky sagter op die neus. Daarna gooi jy ’n eetlepel water by om die geure te ontsluit. Ys laat die whisky toetrek en geur verloor. “Maar tuis drink jy dit soos jy verkies. Hierdie is net aanwysers om jou whisky-proe beter te maak,” het hy vertel. Alan het aanbeveel dat jy die whisky vir soveel sekondes as die whisky se ouderdom in jou mond hou, om die volle geur te ervaar.
Bunnahabhain is een van 13 distilleerderye op Islay en aanstaande jaar open die 14de een sy deure.
Die Wade Bales Wine & Malt Whisky Affairs Johannesburg word op 30 en 31 Mei by die luukse Hyde Park Corner; en in Durban op 13 en 14 Junie by die wêreldklas jazzkroeg, The Chairman, gehou. Kaartjies vir beide geleenthede by Quicket.