Reis word dikwels gesien as ’n luukse en as net vir sekere mense beskore. Dis ’n wanopvatting. Reis is broodnodig
Suzanne Crozier vat ons hierdie week op ’n reis Marokko toe met haar resepte en Maryke Roberts vertel meer oor hul onlangse besoek aan Lissabon. Op die Griekse eiland, Lesbos, kan Vrouekeur-lesers in Julie vanjaar gaan kuier en die volgende Vrouekeur/Seagull-toer is in April 2020 Marokko toe. Maak ’n plan – dis ervarings wat nie in rand en sent gemeet kan word nie!
Reis word dikwels gesien as ’n luukse en as net vir sekere mense beskore. Dis ’n wanopvatting. Reis is broodnodig. Vele boeke is al geskryf oor hoe om kinders groot te maak. Daar is ’n paar dinge wat ek glo van kinders volwasse, ingeligte, verdraagsame, oopkopgrootmense maak. Twee daarvan is: Hulle moet lees en hulle moet reis. In die wêreld van vandag, word kinders van kleins af aan tegnologie blootgestel en hulle het tegnologiese vaardighede wat ek in my leeftyd waarskynlik nie onder die knie gaan kry nie. Maar ek dink dit is uiters belangrik dat kinders nie net deur middel van tegnologie leer en ervaar nie.
Op bladsy 14 kyk JB Roux na versla wings, en hoewel ek persoonlik versigtig is om gedrag summier in ’n verslawingsboks te plaas, dink ek verslawing aan tegnologie is inderdaad ’n realiteit. Mense met klein kinders in my vriende- en familiekring is almal effens bekommerd oor hul kinders wat na ’n tablet gryp as hul oë soggens oopgaan. In plaas van om nog ’n nuwe tegnologiese apparaat of sagteware vir ’n kind se verjaardag te koop, raai ek ouers aan om vir die volgende verjaardag eerder ’n aardbol as geskenk te gee. Om die wêreld op ’n plat kaart te bekyk, is reeds ’n ervaring, maar om die wêreld op ’n aardbol te sien, maak letterlik ’n nuwe wêreld oop. Nie alleen gee dit ’n begrip van geografie nie, dit haal kinders uit hul virtuele wêreld en dis ’n briljante stimulus om wanderlust by ’n kind aan te wakker. Op ’n aardbol kan jy sien dat jou eie wêreld nie die begin en die einde van die wêreld is nie en dit maak jou nuuskierig om na daardie dele van die wêreld te reis wat jy op die aardbol sien.
Mark Twain het gesê: ‘Travel is fatal to prejudice, bigotry and narrow-mindedness.’ Vooroordeel, onverdraagsaamheid en bekrompenheid is onder meer drie dinge wat mense met oogklappe na die wêreld laat kyk. Om jou kind van kleins af bloot te stel aan die ontdekking van die wêreld en ’n bewusmaking van ander mense, is ’n belegging wat jy maak en is baie meer werd as die geld wat jy daarop spandeer. Goeters, groot huise, groot karre en duur klere is nie belangrik nie. Ek het eerder minder goeters, woon in ’n klein huisie, ry ’n uiters beskeie kar en dra weekliks dieselfde klere werk toe, want reis is vir my nie ’n luukse nie, dis ’n noodsaaklike deel van die lewe.
Ek het reeds wyd gereis, maar is nog lank nie klaar gereis nie – daar is nog plekke op die aardbol in ons huis wat ek wil ontdek. St Augustinus van Hippo het reeds in sy leeftyd (354 tot 450 NHJ) die waarde van reis en ontdekking besef – en reis was toe nie so maklik soos vandag nie. Hy het toentertyd al gesê: ‘The world is a book, and those who do not travel read only a page.’ Ek het nog baie bladsye om te lees.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.