Op bladsy 28 skryf Ansja Ferreira oor irrasionele vrese, oftewel fobies, waaraan ‘n mens kan ly. En daarin lees ek dat daar ‘n verskil tussen vrees en fobies is.
Daar is min dinge of mense waarvoor ek bang is. Dalk is dit omdat ek al geleer het dit help nie om bang te wees nie. Bangwees neem nie dit waarvoor jy bang is weg nie. Dit maak jou net bang. Fobies is ook nie deel van my bestaan nie. Ek is nie bang vir donderweer nie, hoogtes skrik my nie af nie en ‘n hysbak gee my nie engtevrees nie. Behalwe miskien vir vermifobie, want wurms kan my laat gril en gil. Dis egter vrees waaroor ek dié week nadink.
Vrees kan ‘n mens se geluk steel. Waarvoor is mense bang? Bo-aan ouers se lys is waarskynlik die dood van ‘n kind. Maar die lys is ellelank. Van dood, siekte, oorlog, geweld, misdaad en motorongelukke tot ‘n vrees vir mislukking, ontrouheid van ‘n lewensmaat en die toekoms van die wêreld is goed wat mense vrees en bang maak.
Don Joseph Goewey is die besturende vennoot van ProAttitude, ‘n maatskappy wat daarop fokus om werkstres te voorkom. Vroeër het hy onder meer die departement van psigiatrie aan Standford Medical School bestuur, en was 12 jaar lank hoof van ICAH, ‘n internasionaal erkende instituut wat baanbrekerswerk gedoen het onder mense wat katastrofale lewensgebeurtenisse met geweldig hoë stresvlakke moes hanteer en verwerk. Van mense wat terminaal siek is en ouers wat met die dood van ‘n kind worstel, tot gevangenes wat tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is en vlugtelinge van die verwoestende oorlog in Bosnië wat aan erge posttraumatiese stresversteuring gely het. Goewey en ander eendersdenkendes is van mening dat jy jou brein se struktuur kan verander om stresreaksies uit te wis en sodoende jou hoër breinfunksie te versterk wat jou in staat stel om te floreer.
In 2012 het hy in ‘n artikel “85% of What We Worry About Never Happens” onder meer die volgende uitgelig: Vyfhonderd jaar gelede het die Franse filosoof Michel de Montaigne, gesê: “My lewe was vol teëspoed; waarvan die meeste nooit gebeur het nie”. Nou is daar ‘n studie wat dit bewys. Die studie het ondersoek ingestel na hoeveel van die moontlike katastrofes in ons denke nooit materialiseer nie. Die studie het bewys dat 85% van dit waarvoor die mense in die studie bang was, nooit gebeur het nie en van die 15% met wie dit wel gebeur het, het 79% agtergekom dat hulle die situasie beter as wat hulle gedink het, kon hanteer en verwerk, of iets daaruit geleer het.
Montaigne se woorde laat ‘n mens lag, maar om bang te wees, is nie ‘n grap nie. ‘n Bekommerde brein is ‘n chronies gestresde brein en chroniese stres gee tot ernstige probleme aanleiding omdat te veel streshormone in jou gestel vrygestel word. As ons ‘n houvas kan kry op bekommernis en stres wat onophoudelik en dikwels onbewustelik deel van ons denke en ons lywe word, verhoog dit die kans op ‘n gelukkiger, gesonder en suksesvoller lewe. Dit beteken ‘n mens moet jou brein in werklikheid herbedraad – of jou breinpaadjies wat oor ‘n tydperk gevorm is en jou op ‘n sekere manier laat reageer, verander. Volgens die Nobelpryswenner Eric Kandle werk ons breine met die mees komplekse stel prosesse in die heelal. Die gesegde “It’s all in the mind” is presies wat dit is. Ons lewe in ons koppe. Soms is dit wat ons dink goed vir ons, maar dikwels maak ons onsself met ons denke bang. En vrees kan verlam.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.