’n Jodetert is ’n lekkerte van bros koekies met ’n ryk vlavulsel. Bak ’n slag hierdie Suid-Afrikaanse gunsteling
Deur MARELI VISSER
6 koeklagies
Bestanddele
840 ml (360 g) koekmeel
120 ml (115 g) strooisuiker
2,5 ml (½ t) sout
290 ml (280 g) botter
750 ml (3 k) melk
15 ml (1 e) botter
125 ml (½ k) suiker
2 groot eiers
50 ml (3 e + 1 t) vlapoeier
50 ml (3 e + 1 t) mielieblom (Maizena)
50 ml (3 e + 1 t) koekmeel
1,25 ml (¼ t) sout
5 ml (1 t) vanielje
250 ml (1 k) melk
Metode
Voorverhit oond tot 200 °C, voer ses 22 cmkoekpanne met waspapier uit en spuit dit met kleefwerende sproei.
- Sif droë bestanddele saam en vryf botter in tot koekiedeeg vorm.
- Verdeel deeg in ses gelyke dele. Druk elke deel plat in koekpan om ronde koekie te vorm.
- Bak koekies vir 10 minute tot goudbruin en gaar. Herhaal tot al ses koekies gebak is. Laat afkoel en verwyder uit panne.
- Verhit melk, botter en suiker tot byna kookpunt.
- Meng eiers, vlapoeier, mielieblom, koekmeel, sout, vanielje en melk.
- Gooi vlamengsel stadig by warm melkmengsel en roer oor stadige hitte tot vla begin dik raak en kook. Verwyder van hitte en laat effe afkoel.
- Skep vlavulsel in spuitsak en spuit tussen koekielae en ook bo-op.
- Verpak koek in lugdigte houer en laat vir 12 uur staan.
- Versier met vars blomme en bedien.