Aanhalings wat ek raaklees, lees ek uiteraard met my bril op, so dis eintlik ’n geval van preaching to the choir
Aanhalings, het ek agtergekom, gee baie mense die piep. Soos my geliefde wat sy oë rol oor wyshede wat my moed gee, inspireer en laat nadink. Sy argument is dat aanhalings uit konteks gelees word en dit vind hy problematies.Dis een van die dinge in die lewe waaroor ons nie saamstem nie. Let wel, nie saamstem nie. Ons baklei nie daaroor nie. Ons is immers twee individue.
Daar is meer mense wat soos hy dink, maar hierdie week skryf ek vir mense wat soos ek dink. Aanhalings wat ek raaklees, lees ek uiteraard met my bril op, so dis eintlik ’n geval van preaching to the choir. Ek vind dat sommige mense dikwels kan sê wat ek dink of voel, maar hulle vat dit so goed saam dat ek dit net so kan gebruik en in my lewe toepas. Nare goed gebeur oral in die wêreld en slegte mense doen nare en skelm goed. Dis waarskynlik nie ’n nuwe fenomeen nie, dis net dat ons kommunikasiekanale so verfynd geraak het dat ons van als oral in die wêreld iets hoor of weet.
As jy net hierdie inligting as barometer vir die stand van die wêreld gebruik, gaan jy óf mal word, óf minstens in ’n depressie verval. Ek het elke dag ’n dosis goeie nuus of redakteursbrief tyd nodig om iets lekkers te doen as teenmiddel teen die dosisse figuurlike gif wat ons daagliks met slegte nuus, stres, spanning, angstigheid, bekommernis inkry … As ek ’n aanhaling raaklees wat tot my spreek, skryf ek dit in my dagboek neer of ek druk dit uit en plak dit in my dagboek. Hier is ’n paar wat ek hierdie jaar al gebêre het en wat my moed gee, aanspoor, leer, dankbaar maak of laat lag in ’n wêreld wat soms voel asof almal stapelgek geword het.
Moenie wag vir goed om beter te word nie. Die lewe is altyd kompleks. Leer om nou gelukkig te wees, want tyd staan nie stil nie – Anoniem
Die suksesvolste mense is diegene met ’n Plan B – James A Yorke
Wees dít waarvan jy die meeste gehou het in mense wat reeds weg is – Anoniem
Loop weg van argumente wat nêrens heen gaan nie of wat jou kwaad maak. Loop weg van mense wat jou doelbewus minderwaardig wil laat voel. Loop weg van mense wat jou nie na waarde ag nie. Loop weg van enige gedagte wat jou vrede versteur. Loop weg van veroordelende mense – hulle weet nie waardeur jy gaan of al is nie. Loop weg van jou foute en vrese – dis nie al wat jy is nie. Hoe meer jy wegloop van dit wat jou vergiftig, hoe beter sal dit met jou gaan – Dodinsky
Selfvertroue beteken nie jy stap in ’n vertrek vol mense in en dink jy is beter as almal nie. Dit beteken jy stap in ’n vertrek vol mense in en jy hoef jouself nie met enigeen te vergelyk nie – Anoniem
Beskerm jou energie. Dis oukei om ’n afspraak te kanselleer. Dis oukei om van plan te verander. Dis oukei om soms alleen te wil wees. Dis oukei om ’n dag af te vat. Dis oukei om soms niks te doen nie. Dis oukei om te laat gaan – Anoniem
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.