Hoe ouer jy word, hoe minder tyd het jy
Tyd is soos ’n rivier, jy kan nie dieselfde water twee keer aanraak nie, want die vloeiende water gaan nooit weer op dieselfde plek vloei nie. Leef elke oomblik van jou lewe.As ek hierdie analogie visualiseer, maak dit die vervlietendheid van die lewe vir my duidelik.
Tyd is ’n relatiewe konsep en soos Albert Einstein gesê het, ’n illusie. Dit het ek kleintyd begryp toe ek agtergekom het dat my vandag al iemand se môre is en iemand anders se gister. Nie almal van ons het dieselfde hoeveelheid ure in ons storie op aarde nie. So ’n week of drie gelede is ’n jongman wat ek nie geken het nie, maar feitlik elke dag op die trappe in ons kantoorgebou raakgeloop het, koelbloedig doodgeskiet. Ek het hom daardie dag twee keer op die trappe raakgeloop en die volgende oggend het ek gehoor ek gaan hom nooit weer op die trappe raakloop nie. Sy tyd het opgeraak. Dis sulke voorvalle wat mens telkens tot stilstand roep om weer eens oor die kosbaarheid van die lewe te besin.
Tyd is inderdaad meer werd as geld. Jy kan altyd meer geld probeer maak, maar jy kan nie meer tyd maak nie. Baie mense sou baie geld betaal as hulle net die horlosie kon terugdraai. Hoe ouer jy word, hoe minder tyd het jy. Dis waarskynlik hoekom ek in hierdie stadium van my lewe baie suinig is saam met wie en waarop ek my tyd bestee. Hoe ouer mens word, hoe wyser behoort jy te raak. Ek leer elke dag by mense. By jongmense en ouer mense. Maar dis die ouer mense wat meestal die wysste woorde het.
Verskeie artikels in gedrukte en op aanlyn media bevat waardevolle inligting van mense wat aan die laaste hoofstukke van hul lewenstories skryf. Sou hulle dinge anders gedoen het as hulle hul tyd kon terugdraai? Een van die artikels wat ek onlangs raakgelees het, lig agt punte uit.
1 Kies jou lewensmaat versigtig.
2 Probeer als in jou vermoë doen om vervreemding van geliefdes uit die weg te ruim.
3 Sê vir jou hartsmense hoe lief jy hulle het en wat hulle vir jou beteken.
4 Reis, reis, reis. Dis die een ding waarop jy met ’n geruste hart geld kan uitgee.
5 Bekommernis vreet tyd op. Probeer om dit minder te doen.
6 Wees eerlik. In jou optrede, maar ook in dit wat jy sê. Moenie stilbly oor onreg nie en moenie spyt wees oor iets wat jy moes gesê het, maar nooit by uitgekom het nie.
7 Waag meer, vat kanse, gryp geleenthede aan en moenie bang wees om uit jou gemaksone te beweeg nie.
8 Kyk na jou lyf en leef gesond.
Niemand van ons weet hoeveel tyd ons nog het nie. Dit kan van die een oomblik na die volgende opraak. Aan die einde van sy lewe het Steve Jobs oor tyd en leef die volgende gesê:
Jou tyd is beperk, so moenie dit mors en iemand anders se lewe probeer leef nie.
Moenie in dogma vasgevang word nie. Dan leef jy volgens ander mense se denke, waardes en oortuigings.
Moenie dat die geraas van ander mense se stemme jou eie binnestem oordonder nie.
Volg jou hart en intuïsie.
Die lewe is in jare, maande, weke, ure, minute en sekondes ingedeel en mensgemaak om orde te gee in ’n wêreld waarvan ons eintlik min verstaan. My brein is nie slim genoeg om die illusie van tyd heeltemal te verstaan nie, maar daar is superslim mense wat dit probeer verduidelik en hul teorieë vind ek fassinerend. Dalk is dit hoekom ek reeds van kleintyd af met die konsep van time travel gefassineer is. Ek sou baie geld betaal om dit te kon doen.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.