Eldaleen Hugo wys vir jou stap vir stap hoe sy haar kopdoek vou
Deur: Eldaleen Hugo
Laat ons nou maar eerlik wees – om jou hare te verloor – om welke rede ook al – is ’n ingrypende verandering en dit kan jou selfbeeld skaad en selfs tot depressie lei. Dis veral vroue wat teen kanker behandel word wat die Vrouekeur-kantoor gereeld kontak om uit te vind hoe hulle kopdoeke kan vou dat dit nie lyk asof jy ’n lapservet in ’n driehoek gevou het en styf teen jou kop vasbind nie. So iets kan mens nie telefonies verduidelik nie, jy moet kan sien hoe dit gedoen word. Ek het besluit om die tegniek wat ek ontwikkel het met ander mense te deel, want ek weet waardeur hulle gaan.
Ná 30 jaar se oefening (lees die storie op bl 12 van 5 April 2019 se Vrouekeur) behoort ek te weet hoe om ’n serp te vou dat jy jou kop hoog kan hou, hare of te nie. Die geheim is om die serp só te vou dat dit ’n impak maak en juis opvallend is, in pleks van ’n kaal kop te probeer wegsteek. Gebruik ’n pasjmina of ’n serp wat so lank en breed soos ’n pasjmina is. Hoe langer die serp hoe beter en mooier kan jy dit vou. Vou die serp voor ’n spieël om te sien wat jy doen.
Ek hoop hierdie stappe gaan jou of diegene ná aan jou wat hulp met die vou van ’n kopdoek soek, help. Moenie moed opgee as jy aanvanklik sukkel nie – onthou hoe meer jy oefen, hoe beter word jy. Ek kan dit nou al toe oë in die donker doen.
Hier is die video
En hier is die stappe
Stap 1
Hou die serp voor jou (of jy kan dit op die bed neerlê en dan vou soos hieronder in stap 2).
Stap 2
Vou die serp in die lengte oormekaar sodat dit min of meer driekwart oorgevou is.
Stap 3
Hang die serp op jou kop met die punte na onder en die driekwartdeel teen jou kop, met ander woorde die groter deel is bo. Trek die serp sodat die punt in jou regterhand so klein bietjie langer is as die punt in jou linkerhand.
Stap 4
Vou die punte na agter en gee dit een draai oormekaar, maar moenie dit knoop nie.
Stap 5
Vou die punte nou weer om jou kop vorentoe.
Stap 6
Draai die punte weer oormekaar sonder om dit te knoop en vou dit weer na agter.
Stap 7
Nou steek jy eers die punt in jou regterhand onderdeur die serp wat jy in stap 4 gevou het.
Stap 8
Vou dan die punt in jou linkerhand onderdeur soos jy in stap 7 gemaak het.
Stap 9
Maak nou ʼn knoop met die twee punte. Maak nog ʼn knoop sodat die serp stewig vas is.
Stap 10
Druk alle voue en punte wat uit plek lyk in die gevoude serp in en trek die agterkant dat dit pofferig is en nie plat teen jou kop trek nie.
Stap 11
Soms los ek al twee punte dat dit afhang, soms net een, en soms druk ek albei agter onder die gevoude serp in.
Stap 12
Siedaar!
Wenk
Die foto waar ek die grys serp dra, is voller as die een wat ek stap vir stap vou. Dis omdat ek met die vou van die grys serp ná stap 2 nog ʼn baie dun en fyn serp (so lank soos die groter serp, maar nie so breed nie) onder die grys serp (op dieselfde manier) gevou het. Ek vou nie eers die een en dan die ander een nie – lê die dun serp bo-op die groter serp en vou dit in die stappe as een serp.