Willie Burger vertel van die afwyking van die lineêre vertelling tot die uiteindelike ondermyning van die plot
"Plot” is in ’n vorige aflewering beskryf as die manier waarop gebeurtenisse chronologies in tyd en in ’n volgorde van oorsaak en gevolg geplaas word sodat al die gebeurtenisse sin maak. Deur ’n plot te maak, word gebeurtenisse en handelings op só ’n manier saamgedink dat alles op ’n logiese, bevredigende slot uitloop. Dit is om die storie agtermekaar te kry; om tot verhaal te kom.
Gedurende die 20ste eeu is die idee dat ’n roman so ’n plot “moet” hê al meer bevraagteken. In baie van die sogenaamde modernistiese romans (dink in die Afrikaanse letterkunde aan Etienne Leroux se werk) is plot egter nie so belangrik nie. Trouens, in baie romans word die idee dat dit hoegenaamd eerlik is om oor die lewe te dink in terme van gebeurtenisse wat logies en in tyd met mekaar verband hou, wat ’n begin, middel en einde het, dikwels bevraagteken.
Die punt is dat die lewe nie soos ’n storie is nie. Niks begin presies op ’n sekere plek en lei logies en noodgedwonge na ’n spesifieke einde nie. Ons kan onsself en die wêreld om ons nie noodwendig so maklik verklaar nie.
Deur ’n beginpunt te kies en ’n samehangende storie te vertel wat op ’n betekenisvolle slot uitloop, hetsy van my lewe of van enige historiese gebeurtenis, is eerder ’n manier om die deurmekaarspul van die lewe tot die orde van ’n samehangende plot, ’n storie, te vervorm, as wat dit is om regtig iets van die lewe te verduidelik.
Daarom word daar in 20ste eeuse romans – en veral in baie van die romans van die afgelope 30 jaar – dikwels afgewyk van ’n lineêre plot (’n storie met ’n logiese verloop van begin, deur die middel, tot die einde).
Een van die eerste maniere waarop daar van lineêre plots afgewyk word, is deur aan die chronologie te torring – om dus nie die verloop van die begin tot die einde te vertel nie, maar om byvoorbeeld kort voor die einde te begin, dan terug te beweeg en te “verduidelik” hoe alles gekom het soos dit nou is, voordat weer verder tot aan die einde vertel word. Dink maar aan Gabriel Garcia Marquez se A chronicle of a death foretold waarvan die eerste paragraaf reeds die moordenaars en hul oorweegredes “weggee”, juis anders as in konvensionele “speurverhale”.
In ’n roman gaan dit nie net oor die vertel van ’n storie nie. Die ontstaan van die roman as kunsvorm is onder meer deur die ontdekking van die boekdrukkuns moontlik gemaak. Die boekdrukkuns het dit vir lesers moontlik gemaak om in hul eie tyd, in hul eie ruimtes, romans te lees en nie meer bloot stories in die openbare ruimte saam met ander as vertellings te volg nie. Skielik kon die leser op sy/haar eie tyd die roman lees. Die romanskrywer het dus nie meer nodig om net ’n storie op só ’n manier te vertel dat ’n hoorder dit dadelik met een luister kan volg nie. Verskeie verhale kan vervleg word, tydspronge kan gemaak word, daar is ruimte vir baie karakters en vir filosofiese besinning, lang beskrywings, lyste van inligting, lang dele wat eintlik op die skep van ’n atmosfeer gerig is, gedetailleerde ruimtebeskrywings, eerder as wat die klem slegs op die vertel van ’n storie val.
In baie romans is daar veelvuldige vertellings, die hervertel van dieselfde gebeurtenisse uit verskillende oogpunte (dink in Afrikaans byvoorbeeld aan André Brink se Houd-den-bek). Heel dikwels, in werk soos Wilma Stockenström se Die kremetartekspedisie, raak ’n mens al vroeg daarvan bewus dat hoewel ’n mens die “storie” van die slavin op ’n manier kan agterhaal, dít nie is waaroor die roman eintlik gaan nie. Die maniere waarop ’n mens onthou, die taal waarin ’n mens verhaal, trek eerder die aandag.
Ook Karel Schoeman se Die uur van die engel is ’n voorbeeld van ’n roman waarin juis aangedui word hoedat die maniere waarop probeer word om ’n gebeurtenis te beskryf, telkens hopeloos te kort skiet.
Die “storie”, die plot, word in hierdie werke minder belangrik as die ervaring van ’n spesifieke atmosfeer, van ’n emosionele toestand, van die verbygaan van tyd.
’n Afrikaanse skrywer wat dikwels direk die idee van plot uitdaag, is Ingrid Winterbach. Sy gebruik byvoorbeeld in Die boek van toeval en toeverlaat die plotstruktuur van die speurverhaal, maar uiteindelik word geen misdaad opgelos nie. Die vrae bly. Dit stem die leser uiteindelik tot nadenke oor hoe ons die wêreld vir onsself verstaanbaar maak. Vk