Koeke met glasuursel wat teen die kant afloop, is deesdae hoogmode. Hier is my resep vir ’n karamelglasuursel
Koek
Bestanddele
500 ml (2 k) koekmeel
20 ml (4 t) bakpoeier
1,25 ml (¼ t) sout
4 eiers
5 ml (1 t) vanieljegeursel
375 ml (1½ k) suiker
60 ml (¼ k) botter
250 ml (1 k) warm melk
Metode
Verhit oond tot 180 °C en berei 2 x 22 cmkoekpanne voor.
- Sif meel en bakpoeier twee keer en voeg sout by.
- Klits eiers en vanieljegeursel en voeg suiker stadig by. Klits tot liggeel.
- Vou meel by eiermengsel in.
- Meng botter met warm melk tot gesmelt.
- Vou melkmengsel by res in.
- Verdeel beslag gelyk in twee panne.
- Bak vir 25 minute tot goudbruin en laat afkoel.
Karamelglasuursel
Bestanddele
5 ml (1 t) gelatien
15 ml (1 e) koue water
250 ml (1 k) suiker
60 ml (¼ k) water
15 ml (1 e) botter
125 ml (½ k) room
Metode
- Spons gelatien in water vir vyf minute.
- Gooi suiker en water bymekaar, smelt op matige hitte totdat suiker opgelos is.
- Kook totdat stroop goudbruin is sonder om te roer.
- Verwyder van hitte.
- Voeg botter en room by en roer tot glad.
- Voeg gesponste gelatien by en roer tot gesmelt.
- Laat afkoel.
- Skep in spuitsak of sterk plastieksak.
Switserse botterversiersel
Bestanddele
6 groot eierwitte (180 g)
375 ml (1½ k) suiker
500 ml (2 k) versiersuiker
5 ml (1 t) vanieljegeursel
500 g botter teen kamertemperatuur
Metode
- Roer eierwitte en suiker oor dubbelkoker totdat suikerkristalle opgelos het.
- Klits eierwitmengsel met ballonklitser in menger tot stywepuntstadium en koud.
- Sif versiersuiker by en klits tot styf.
- Voeg vanielje by en klits.
- Verdeel botter in agt dele.
- Gebruik die menger se k-haak en voeg die botter in sarsies by terwyl menger op volspoed loop. Moenie skrik as eierwit ná die tweede byvoeging slap raak nie, hou net aan klits en voeg res van botter by, uiteindelik sal mengsel dik en glad raak.
- Skep in spuitsak met rondepuntspuit.
Konstruksie
Bestanddele
1 blik gekookte kondensmelk
8 pers vye
Metode
- Sny twee koeke middeldeur met skerp mes. (4-laag-koek)
- Klits kondensmelk tot sag en skep in spuitsak.
- Spuit ’n ring buite om met versiersel en spuit een derde van kondensmelk aan binnekant. Smeer kondensmelk egalig (dit sorg dat kondensmelk nie teen kant uitlek nie). Spuit bo-op nog versiersel en smeer plat (sien foto).
- Sit tweede laag koek op en herhaalstap 3.
- Sit derde laag koek op en herhaal stap 3.
- Sit laaste laag koek op en spuit ’n spiraal met versiersel bo-op. Smeer eers boonste deel glad. Spuit dan kante van koek en smeer om hele koek te bedek. Gebruik deegskraper en krap koek teen kante totdat koek effe deurskyn.
- Verkil koek in yskas vir sowat 30 minute.
- Knip klein gaatjie in glasuursel se spuitsak en spuit eers om rand, sodat glasuursel hier en daar afdrup. Vul dan res van bokant met glasuursel.
- Versier met pers vye en blare.