Die Woordfees het vanjaar sy 20ste bestaansjaar gevier
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
“Ons is dankbaar en trots die fees het so goed afgeloop,” sê feesdirekteur Saartjie Botha. “Voorlopige syfers dui op ’n styging van 9,76% in die aantal kaartjies verkoop, met die randwaarde net oor die 15% meer as in 2018.”
Daar was vanjaar meer as 600 medewerkers gedurende die fees en ongeveer 3 500 kunstenaars versprei oor 64 venues in 483 enkellynaanbiedings waaronder: 90 boekgesprekke, 80 diskoersgesprekke, 22 feesdebute op die toneelprogram, 52 konserte (kontemporêre musiek), 28 uitvoerings (klassieke musiek), 12 stand-up-komedie-vertonings en ’n filmfees met 10 vollengte speelfilms, 10 dokumentêre en 20 gratis kortfilms. In totaal was daar meer as ’n 1 000 aanbiedings by die US Woordfees vanjaar.
Die fees het die beste bywoning uit studente en Stellenbosse gemeenskapsgehore tot nog toe gehad en veral die Sanlam Musiekfees, stand-up-komedie en filmfees is goed besoek. Dit is ook verblydend om te sien hoe gretig gratis aanbiedings bygewoon is. Meer as 5 000 mense het na die kostelose Diskoers-gesprekke gaan luister.
Die dorp se historiese kern het gewemel van feesgangers wat tussen vertonings by koffiewinkeltjies nabetragting gehou het of na kunsuitstallings gaan kyk het. Boekwinkels by die verskillende venues het boeke verkoop en outeurs het gretig boeke geteken na afloop van besprekings.
En die pendeldiens het gesorg dat die reeds stampvol Stellenbosch nie heeltemal ontoeganklik was nie en mense stiptelik by die 64 venues wat van skoolsale tot teaters en ouditoriums gewissel het, besorg.
Die US Woordfees 2020 vind van 6 tot 15 Maart plaas, wanneer die mondigwording met groot omhaal gevier sal word.