Maak hierdie biltong-aartappelpoffers as ’n lekker happie vir jou gaste!
4 porsies
Bestanddele
3 groot aartappels
45 ml (3 e) koekmeel
250 ml (1 k) fyn biltongstukkies
250 ml (1 k) gerasperde kaas
80 ml (1/3 k) melk
knypie sout en swartpeper
15 ml (1 e) bakpoeier
15 ml (1 e) rooivleissout (vleisspeserye)
80 ml (1/3 k) koekmeel
1 eier
bietjie melk
80 ml (1/3 k) broodkrummels
olie vir diepvetbraai
pikantrissie-blatjang vir opdien
Metode
- Skil aartappels en sny in kleiner blokkies.
- Kook in baie water tot sag. Dreineer goed en maak met aartappeldrukker fyn. Sit terug op warm plaat sodat meeste water kan uitstoom.
- Roer meel, biltong, kaas, melk, sout, peper, bakpoeier en rooivleissout by. Roer tot mengsel net bind.
- Rol mengsel in bolletjies en rol in koekmeel. Klits eier en melk en rol bolletjies daarin en dan in broodkrummels.
- Maak olie warm, gooi bolletjies versigtig in en braai tot goudbruin. Dit moet dadelik borrel, anders is olie te koud.
- Sit louwarm met blatjang voor.