Ses vrae aan Jan Schaafsma, die skrywer van Dubbelspiraal wat onder die skuilnaam André Jansen, verskyn het:
1. Watter boek het die grootste indruk op jou lewe gemaak?
Pride and Prejudice. Dit was ’n voorgeskrewe boek in (die ou) standerd nege en toe weer in my eerste jaar aan Rhodes. Ek het dit dus in totaal seker ’n dosyn keer gelees, en dit gee my nou nog plesier.
2. As jy een skrywer kan ontmoet, wie sal dit wees, hoekom daardie skrywer en wat sal jy te sê of te vra hê?
Dit moet dus ’n lewende skrywer wees? Dan die skrywer van The Art of the Deal, Donald Trump. Net om in sy gesig te sê watter idioot hy is. Dan sal ek maar moet hol dat dit bars sonder om iets te vra.
3. Wat was jou grootste teleurstelling in jou lewe?
Behalwe Zuma se roekelose vernietiging van feitlik alles wat goed in die land was? Weer ’n lang lys, maar in die konteks van hierdie vrae en antwoorde: Dat Die Simson-opsie, wat na my mening baie beter as Die Jerigo-krisis is, soos ’n klip gesink het.
4. Waaroor is jy besonder trots?
Dat ek, deur bestaande huise te koop, op ’n beskeie skaal sonkrag inspan, reënwater versamel en so veel as moontlik te stap, probeer om die natuur so min as moontlik skade aan te doen.
5. Wat geniet jy van die rustigheid van Bettysbaai?
Dis nie altyd so rustig as wat mens dink nie. Die grootpad kan ráás, veral as die N2 toe is en die vragmotors brullend deur ons dorpie donder. Om van die gillende motorfietse op Sondagoggende nie te praat nie. Mense van buite huur ’n huis en doef-doef die heel naweek deur. En as jy langs die see gaan loop, kan die astrante perlemoenstropers gal in jou keel laat opstoot. Boonop kan jou huis enige oomblik daarmee heen wees wanneer ’n sot die fynbos aan die brand steek. Maar die grootste genieting is dat jy nog midde-in die natuur wat oor is, kan leef. Kaapse fisante op jou werf, muishonde wat kos kom soek, tiptolle wat ’n nes net buite ’n venster maak, baie vars lug.
6. Hoe ontspan jy?
Ek lees, en stap soveel as wat ek kan. Maak al die flieks in 1001 Movies to See Before You Die bymekaar (moenie vra hoe nie) en kyk hulle. Pak my motor vir vakansies met alles wat jy vir oorlewing nodig het, en ry sonder enige plan of besprekings die land se agterpaaie.