Willie Burger vertel meer oor plots met vaste patrone
In die vorige aflewering is aangedui dat “plot” dui op die manier waarop ’n verteller die verskillende gebeurtenisse uitsoek en rangskik sodat al die verskillende gebeurtenisse saam ’n storie word wat op ’n sinvolle einde uitloop.
’n Mens kom gou agter dat daar sekere plotstrukture is wat herhaaldelik voorkom. Met ander woorde ’n groot klomp verskillende stories word telkens op min of meer dieselfde manier vertel. Die bekendste van hierdie vaste plotstrukture is die speurverhaal, die avontuurverhaal en die liefdesverhaal, of mengvorms hiervan.
In avontuurverhale oorkom die hoofkarakter talle hindernisse en groot gevare ten einde ’n belangrike taak te voltooi. Meestal moet ’n skurk of ander bedreiging wat die gemeenskap in ’n penarie laat beland, deur die held afgeweer word. Die held slaag uiteindelik daarin om die bedreiging af te weer en kry dikwels ook die gunste van ’n mooi meisie as beloning. Die booswig en die meisies is egter nie sentraal nie (die meisie se gille dien dikwels net om die gevaar groter en die held dus nog dapperder te laat lyk). Die klem val op die dapperheid, vaardigheid of slinksheid van die held en op die aard van die struikelblokke wat hy te bowe moet kom.
Van cowboyboekies tot sommige wetenskapfiksie volg hierdie struktuur. Ook spanningsrillers soos dié van John le Carré, Ian Flemming en John Grisham volg hierdie patroon. Terwyl die hoofkarakters in avontuurverhale meestal mans is, is die hoofkarakters in liefdesverhale (of “romanses”) meestal vroulik. Die romanse is, gemeet aan verkope, verreweg die gewildste van al die fiksiegenres.
Sentraal in hierdie verhale is die ontwikkeling van ’n liefdesverhouding. Twee mense raak verlief en moet talle probleme te bowe kom om die liefde te behou. Enige gevaarsituasies is eintlik net struikelblokke in die pad van die ontluikende liefdesverhouding. Hierdie verhale het byna altyd ’n gelukkige einde. Die gelukkige einde bevestig by die leser die idee dat liefde alle probleme oorkom. Wanneer een van die geliefdes wel sterf, word meestal gesuggereer dat dit ’n volmaakte, reddende liefde was. Verskeie variasies kom voor: die Aspoestertjie-verhaal (arm vrou ontmoet ryk man en die groot verskil moet oorkom word); die Pamela-verhaal (heldin oorkom die gevaar van betekenislose passie en vind ware liefde).
Weerstand teen die tradisionele patroon van die vrou as afhanklik van die man se liefde vir vervulling het tot wysigings in die aard van die hoofkarakters in romanses gelei. In “chicklit” (’n variasie van die romanse wat sedert die middel 1990’s onderskei word) is die vroulike hoofkarakters nie slagoffers nie. Hulle is dikwels alledaagse (professionele en onafhanklike) vroue wat wisselende sukses in hul loopbane het en met talle verhoudingsprobleme worstel. Hulle sukkel om van lastige mans ontslae te raak of om die aandag van ’n begeerlike man te kry. Helen Fielding se Bridget Jones’s diary en Candace Bushnell se Sex and the city is goeie voorbeelde.
Een van die mees gesofistikeerde plotstrukture is dié van die speurverhaal. In die speurverhaal word op ’n geheim gefokus wat na die pleeg van ’n misdaad ontstaan het. (Wie het die moord gepleeg? Waarom het iets verdwyn?)
Daar is verskeie subgenres van die speurverhaal: die gemaklike (cozy) speurverhaal, soos Agatha Christie; die amateurspeurder; die “polisieroman”, dikwels gegrond op realistiese polisieprosedures; prokureur/dokter/patoloog as speurder, waar spesialiskennis gebruik word; die privaat speurder; die “donker” speurverhaal; die hardgebakte speurder; die misdaadverhaal waarin die leser eintlik by intelligente en waaghalsige misdadigers se planne ingetrek word, ensovoorts.
Ook die speurverhaal bevestig die leser se verwagtings – die wêreld word ’n beter plek as die skurke gevang en misteries opgeklaar word.
Die meeste gewilde romans volg hierdie basiese plotstrukture of variasies daarvan. Ingewikkelde verhale, wat verskeie aspekte van die bogenoemde plotstrukture bevat, wat deur die ineenstrengeling van verskillende plots gelyktydig ’n liefdesverhaal, avontuur en speurverhaal kan wees, kom ook soms voor.
Terwyl hierdie vaste plotstrukture meestal met gewilde fiksie verbind word, kom ’n mens dikwels agter terwyl jy lees, dat die boek oor iets anders as die plot gaan; as die afstuur op ’n spannende einde; as die sensasionele gebeurtenisse of die lotgevalle van die karakters. Sulke tekste word soms as “letterkunde” beskryf. Vk