Dalk is jy iemand wat opgehou het om jouself lief te hê. Doen nou iets daaraan, want dit gaan ’n klomp ander goed makliker maak in ’n wêreld wat nie maklik is om in te leef nie
Ek lees ’n storie op sosiale media raak wat my pa jare gelede vir my vertel het. Dis ’n storie van twee broers.Dié twee se kinderjare was nie maklik nie. Hul pa, onder meer ’n alkoholis, was nie die ideale rolmodel nie – trouens hy het eiehandig sy gesin verwoes en die broers moes vanaf ’n baie jong ouderdom op hul eie voete staan. Eintlik was daar van kinderjare nie sprake nie.
Kinders wat in slegte omstandighede grootword, leer die grootmenswêreld baie vinnig ken. Nietemin, die broers het dit oorleef en grootgeword, maar hul lewens het nie dieselfde paadjie geloop nie. Die een het op straat beland – ’n sukkelaar en ’n alkoholis. Die ander een was suksesvol en gelukkig. Op dieselfde vraag aan albei oor hoe hul pa se voorbeeld en hul omstandighede hul lewens beïnvloed en hulle gevorm het, was hul antwoord bykans dieselfde. Die een op straat se antwoord: “My pa was ’n alkoholis en ek het onder baie moeilike omstandighede grootgeword. Is jy verbaas ek sit waar ek sit met só ’n voorbeeld?”
Die ander broer se antwoord: “My pa was ’n alkoholis en ek het onder baie moeilike omstandighede grootgeword. Die voorbeeld wat my pa gestel het, het my op ’n jong ouderdom laat besluit dis nie die voorbeeld wat ek eendag vir my kinders wil stel nie. Ek wou glad nie soos hy wees nie.” Hoekom het sekere mense meer deursettingsvermoë as ander? Ek weet nie, maar sielkundiges sal waarskynlik vir jou sê die antwoord is nie so eenvoudig nie.
Onlangs lees ek iets hartroerends op Facebook raak. ‘Kinders wat mishandel en verwaarloos word, hou nie op om hul ouers lief te hê nie. Hulle hou op om hulself lief te hê’ Dalk het die broer wat op straat gewoon het, opgehou om homself lief te hê. Maar dalk het hy ook opgehou om in homself te glo. Ek is oortuig daarvan dat as jy nie jouself liefhet en in jouself glo nie, kan jy die lewe vir jouself en die mense om jou baie moeilik maak. En dit is dan moeilik om jou lief te hê.
Bygesê, selfliefde moenie met arrogansie verwar word nie. Daar is mense wat so arrogant is oor wat hulle bereik en hoeveel geld en mag hulle het dat hulle dit nie eens agterkom nie. Dis nie selfliefde nie. Dis selfverheerliking en waarskynlik grens dit aan narsisme. ’n Storie soos dr Xolani Hadebe s’n op bl 12 is vir my verblydend. ’n Jong man het als in sy vermoë gedoen om ten spyte van omstandighede sy droom te verwesenlik. Wat het hom gemotiveer? Vir my lyk dit asof sy ma se onvoorwaardelike liefde en morele ondersteuning ’n selfliefde by hom gekweek het wat hom staande gehou het, selfs in ’n stadium toe dit vir hom gelyk het asof sy droom maar net ’n droom sou bly. Hy het deurentyd in homself bly glo.
Dalk is jy iemand wat opgehou het om jouself lief te hê. Doen nou iets daaraan, want dit gaan ’n klomp ander goed makliker maak in ’n wêreld wat nie maklik is om in te leef nie. Vir diegene wat ’n maklike antwoord en ’n oplossing het vir mense wat sukkel – onthou, jy is een van die gelukkiges wat ten spyte van omstandighede en mense jou “self” nie verloor het nie. Maar check net, is dit selfliefde of arrogansie wat jou ’n eenvoudige oplossing vir ’n baie komplekse probleem gee.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.