In Vrouekeur van 19 Februarie skryf Johan Myburg oor die uitvoering van die vyf Beethoven-klavierkonserte deur die Kaapstad Filharmoniese Orkes volgende week in die Moederstad.
JOHAN MYBURG
As deel van sy tiende internasionale somerfees speel dié orkes op 24 en 25 Februarie onder leiding van die Amerikaanse dirigent Victor Yampolsky al vyf klavierkonserte van Ludwig van Beethoven. Die Kaapse pianis François du Toit is die solis.
Op 24 Februarie word die Klavierkonsert no. 1 in C, op 15; die Klavierkonsert no. 2 in B-mol, op. 19 en die Klavierkonsert no. 4 in G, op. 58 uitgevoer.
Die volgende aand, op 25 Februarie, kom die Klavierkonsert no. 3 in c, op. 37 en die Klavierkonsert no. 5 in E-mol, op. 73 (die sogenaamde “Keiserkonsert”) aan die beurt. Dié konsert word ingelei deur die Prometheus-ouverture, ook van Beethoven.
Die onderhoud met Du Toit hier onder is aanvullend tot die rubriek in Vrouekeur.
Is dit nie moordend om al vyf konserte in twee aande te speel nie?
Dit is inderdaad moordend en ek het dit nog nooit voorheen aangepak nie, maar wat is die lewe sonder uitdagings? Om die konsertprogram nie uitermatig lank te laat duur nie, is daar besluit om op die eerste aand slegs die drie klavierkonserte uit te voer, sonder ‘n ouverture. Die tweede aand bestaan uit ‘n ouverture gevolg deur die ander twee klavierkonserte.
Hoe berei jy vir so ‘n marathon voor?
Natuurlik is dit belangrik om redelik fiks te wees en dit bereik ek deur my liefde vir swem. Dan word daar ook baie geoefen op die klavier en ‘n paar oefenlopies (play throughs) met een van my kollegas wat die orkesgedeelte speel op my tweede klavier. Die geheue is altyd maar ‘n probleem op my gevorderde ouderdom, maar daarvoor drink ek visolie dat die bieses bewe!
Waarom is op Beethoven besluit? Wat daarvan is vir jou die uitdagendste?
Beethoven is nog altyd een van my gunsteling-komponiste en om al die Mozart-konserte te speel, sou twee weke geneem het! Dit is nog altyd vir my baie lekker om nuwe klavierkonserte aan te leer en hoewel die vierde klavierkonsert nogal uitdagend is, geniet ek die voorbereiding en voel ek bevoorreg om dit te kan speel saam met die Kaapstad Filharmoniese Orkes.
Waarom is No’s. 1, 2 en 4 gekies vir die eerste aand en No’s. 3 en 5 vir die tweede aand? Enige spesifieke rede anders as tydsduur?
Die tydsduur is natuurlik ‘n groot invloed op die keuse, maar ook die stilistiese komponent van die verskillende klavierkonserte het die keuse beïnvloed. Die gehoor verwag natuurlik 1, 2, 3 en dan 4 en 5, maar soms hou ons daarvan om hulle te verras.
Het julle die No. 0 oorweeg vir die program?
Klavierkonsert No. 0 is nie oorweeg nie aangesien die orkesparte nog nooit opgespoor is nie en daar bestaan net sketse daarvan. Dit is ook ‘n ongelooflike jong werk wat Beethoven geskryf het toe hy 14 jaar oud was. Hoewel dit baie interessant is dra dit nie dieselfde gewig as die ander vyf konserte nie.
Jy ken Victor Yampolsky jare lank as dirigent. Hoe is die rapport tussen julle?
Ek het die eerste keer met Victor gespeel toe ek nog ‘n student was, dit was Liszt se e-mol-klavierkonsert, en dit was in 1985. Ons loop al 30 jaar saam en ek geniet elke oomblik om met hom saam te werk. Ek hoop natuurlik hy voel ook so.
Hoe is jou verhouding met die Kaapstad Filharmoniese Orkes?
Die Kaapstad Filharmoniese Orkes is soos ? familie vir my aangesien dit die eerste orkes (die ou CTSO) was met wie ek gespeel het in 1983. Ek ken baie van die lede op ? persoonlike vlak en het baie respek vir wat die musikante al uitgerig het oor die afgelope 100 jaar. Natuurlik bly die stadsaal vir my een van my mees geliefkoosde konsertsale om in op te tree.
Met die insinking in Johannesburg van die JPO is ? mens jaloers op Kaapstad en Durban. Waarom dink jy gedy klassieke musiek in die Kaap en in KZN?
Ons is baie bevoorreg om steeds ‘n baie goeie gehoor in die Kaap te hê wat die kunste ondersteun Daar is ook in die Kaap ? baie sterk borgskapetiek aangesien Kapenaars baie trots is op hulle orkes. Siende dat Bongani Tembi (uitvoerende hoof van KZNPO) so groot sukses gemaak het in Durban en hy nou sopas aangestel is om die ou JPO te herskep, het ek baie hoop vir klassieke musiek en ‘n uitstekende orkes in Johannesburg. Dit sou inderdaad ‘n tragedie wees as ? stad soos Johannesburg nie sy eie orkes het nie.
Hoe is jou planne vir dié jaar? Kom jy in Gauteng of die omgewing speel?
Tot dusver is daar nie planne om in Gauteng te kom speel nie, maar dinge verander sommer vinnig. Ek is op langverlof vir die eerste helfte van 2016 en beplan om my DMus klaar te maak. Dit neem baie van my tyd in beslag.