Om deeg te knie tot dit sag en soepel is, is terapeuties en daar is niks lekkerder as ’n sny van ’n varsgebakte brood warm uit die oond nie, veral hierdie gevlegte brood
Deur MARELI VISSER
1 brood
Bestanddele
500 ml (2 k) broodmeel
1 pakkie gis
250 ml (1 k) louwarm water
5 ml (1 t) sout
15 ml (1 e) olyfolie
75 g songedroogde tamaties
10 basiliekruidblare
2 knoffelhuisies
15 ml (1 e) olyfolie
varsgemaalde swartpeper na smaak
Metode
Verhit oond tot 180 °C en berei oondpan voor deur dit met meel te strooi.
- Meng broodmeel, gis, water, sout en olyfolie en knie vir vyf minute tot soepel en sag.
- Maak deeg met kleefplastiek toe en laat rys vir uur of tot dubbelvolume.
- Sny tamaties, basiliekruid en knoffel fyn.
- Meng tamaties, basiliekruidblare, knoffel en olyfolie.
- Rol deeg op meelbestrooide oppervlak tot vierkant van 40 cm x 40 cm uit.
- Smeer kruiemengsel egalig op deeg en maal swartpeper bo-oor. Rol op soos rolkoek.
- Sny in die middel deur, maar hou een punt heel.
- Draai gesnyde gedeeltes op hul sy en sit een gedeelte bo-oor ander om dit te “vleg”. Knyp onderste punt toe.
- Bedek met plastiek en laat rys tot dubbelvolume.
- Bak vir 30 minute tot goudbruin en gaar.