Voel jou kind so oorweldig deur al sy huiswerk dat jy maar inspring en dit vir hom doen? Shanda Luyt kyk dieper …
Dis sperdag vir ‘n skoolprojek en oral sien jy kinders met enorme take wat versigtig uit motors klim om nie hul kunswerke te beskadig nie. Die gehalte van die take is wisselend: Sommige lyk of dit die vorige aand vinnig aanmekaargeslaan is, ander is ietwat krom en skeef, maar tog oulik gedoen. En dan is daar die take wat lyk asof dit deur ‘n professionele ingenieur gedoen is.
Linda Grobler, ‘n ma van Centurion, vertel: “Ons kinders het verlede week vervoermiddels behandel en moes iets maak wat homself aandryf. Van daardie goed kon jy sien is die ingenieurpappa se werk. My kind se afgesnyde, geverfde melkbottel was sý werk. Ek het net gehelp om die begin te sny en die res moes hy self met ‘n skêr doen.”
Beweeg jy in ouerkringe by skole in ons land, kom jou gou agter dis glad nie so vergesog dat ‘n skooltaak inderdaad die handewerk van ‘n professionele ingenieur kan wees nie, want in vele huishoudings is huiswerk lankal nie meer net kinderwerk nie, veral nie as dit by take of mondelinge kom nie.
Sommige ouers doen hul kinders take selfs tot in hul matriekjaar en ander gaan nog verder en betaal professionele mense om vir hul kinders mondelinge te skryf of take te doen. Intussen moet Jannie of Sannie se taak sonder ouerhulp met dié van professionele mense meeding. Genoeg om hulle moed te laat verloor. Maar skiet dié ouers wat hul kinders se huiswerk doen nie hul kinders in die voet nie?
Waar pas jy as ouer in?
Die ouer se rol is altyd ondersteunend in huiswerk, take en toetse, beklemtoon Alet Marais, opvoedkundige konsultant van Tuishulp wat ouerleiding oor huiswerk bied.
“Ouers wat hul kinders se huiswerk vir hulle doen, doen meer skade as wat hulle vermoed. Dieselfde geld vir ouers wat vir hul kinders opsommings vir toetse maak of take se inligting neerskryf. Onthou, jy werk met ‘n langtermynplan. Jy wil die beste vir jou kind hê soos ‘n naskoolse kwalifikasie of ‘n graad. Die beste is nie dat jou kind noodwendig in graad 4 eerste in die klas moet staan nie. Leer jou kinders nou reeds om verantwoordelikheid vir hul eie leerwerk te aanvaar, rus hulle met die regte studievaardighede toe en daar is geen rede waarom hulle nie suksesvol kan wees nie.”
Die meeste ouers sal nie sommer hul kinders se huiswerk vir hulle doen nie, sê Alet, maar ouers is dikwels skuldig daaraan om take te doen, mondelinge te skryf of opsommings te maak.
“Kom ons begin met die opsommings. Ja, ek weet daar is vreeslik baie inligting in die boeke en die kinders weet nie wat om te leer nie, maar een van die vaardighede wat kinders moet aanleer, is om belangrike en relevante inligting te kan sif en te identifiseer. As jy jou kinders se opsommings maak, leer hulle nooit daardie vaardighede aan nie.”
Die maak van opsommings is deel van die leerproses, verduidelik Alet. “Dit verklaar hoekom jy die werk so goed ken ná jy die opsomming gemaak het! Wys jou kinders eerder hoe om self opsommings te maak. Daar is heelwat navorsing oor breinkaarte (mind maps) gedoen en ongeag jou kinders se leerstyl, bly dit die beste manier om opsommings te maak.”
Net so, wanneer jy jou kinders se mondeling skryf, ontneem jy hulle van die voorreg om daardie vaardigheid aan te leer, sê Alet.
“Jy kan help en riglyne gee, deur byvoorbeeld jou kinders te vra om eers self die mondeling te skryf en dan help om aanpassings te maak. Wys jou kinders ook hoe om te kyk na die opdrag of rubriek wat die onderwyser gebruik om punte te gee. Dit moet as riglyn by die skryf van ‘n mondeling of die doen van ‘n taak dien.”
Alet sê as jou kinders take kry, mag jy help deur inligting te soek. “As jou kinders in die laerskool is, kan jy ‘n bietjie meer help, maar ‘n hoërskoolkind behoort al die inligting self te kan soek. Neem jou kind biblioteek toe en vra die bibliotekaresse om te help.”
Hoekom dan huiswerk?
Cecile Roux, ‘n ma van Riebeeck-Wes, sê sy kan ‘n opstel oor huiswerk skryf: “Ek help wanneer my kinders vashaak en laat take heeltemal in hul hande, maar die oorwegende gevoel hier by ons is dat dit die meeste van die tyd onnodig is. Veral op laerskool. Kinders moet meer tyd kry vir om vry te speel en eie belangstellings na te volg. Met skoolure en huiswerktyd bestee hulle party dae meer tyd aan skoolwerk as wat grootmense aan werk bestee!”
Martie Kruger, ma van twee van Durbanville, voel die take en huiswerk is dikwels te moeilik vir die kinders. “Dit voel soms vir my asof die onderwysers aspris vir die ouers en nie vir die kinders nie huiswerk gee. Party van die take wat hulle moet doen, is onmoontlik vir die kinders om self te maak en as hulle wel self probeer, kry hulle slegte punte.”
Alet sê die doel van huiswerk is om vaslegging te doen van dit wat in die skool geleer is. “Huiswerk is nie veronderstel om oor nuwe werk te wees wat die kind nie verstaan nie. Take en opdragte word soms as tuiswerk gegee, maar dieselfde reël geld. Die kind moet reeds in die klas ingelig wees wat om te doen. Vir toetse en eksamens moet kinders vooraf ‘n afbakening kry sodat hulle presies kan weet wat om te leer.”
Elmarie Badenhorst, onderwyseres by Ed-U-College Qwa Qwa, sê sy gee huiswerk as basiese hersiening van die werk wat hulle die dag in die klas gedoen het. “Dit sal ‘n oefening of twee wees wat ons die volgende dag vinnig sal deurwerk slegs vir my om te bepaal of daar enige leerders is wat die vorige dag se werk nie verstaan nie. Dan het ek dadelik die geleentheid om die werk met hierdie leerders oor te gaan en seker te maak dat hulle dit wel verstaan.” Sy sê sy hou wel daarvan om uitdagings aan haar leerders te stel, soos om die dag se onderwerp te gaan navors en meer inligting te bekom. “Ek sal die volgende dag vir elkeen ‘n beurt te gee om te vertel wat hulle uitgevind het.”
Hoeveel huiswerktyd?
Elmarie sê sy stem vir net genoeg huiswerk om nie die vorige dag se klaswerk te vergeet nie. “Deur kinders met huiswerk te oorlaai, maak hulle negatief en dan is die probleem groter as aanvanklik. Kan jy jou voorstel sewe vakke en vyf oefeninge per vak se huiswerk? Ek lê eerder klem op dit wat ek in die klas kan doen en ek is daar vir vrae of onduidelikhede.”
‘n Graadeenkind moet maksimum tien minute per dag aan huiswerk bestee, beveel Alet aan. “Daarna kom daar vir elke graad nog 10 minute by. ‘n Graad 4-kind sal 40 minute nodig hê en ‘n graad 7-kind een uur en tien minute. In graad 10 tot 12 het kinders twee tot drie uur per dag vir huiswerk nodig.”
En wat as jou kinders se huiswerk baie langer vat? Probeer uitvind hoekom jou kinders so lank vat om hul huiswerk te doen, raai Alet aan.
“Loer as jou kinders nie kyk nie. Is dit omdat hulle met ander dinge besig is? Sit en droom hulle? Sukkel hulle om die vrae te verstaan? Sommige kinders, veral dié met spesiale leerbehoeftes, neem langer om huiswerk te doen, terwyl ander nie lus is vir huiswerk nie en dan toelaat dat ander dinge hul aandag aftrek. As jou kind spesiale leerbehoeftes het, byvoorbeeld as hulle lees as leerhindernis ervaar, gesels met jou kind se onderwyser en hoor wat jy kan doen om die huiswerk minder te maak. As jy onseker is of jou kinders ‘n leerhindernis ervaar, gesels met die onderwyser en indien nodig, gaan sien ‘n professionele persoon soos ‘n opvoedkundige sielkundige.”
Die werklikheid is egter dat nie alle onderwysers die memo gekry het nie: As jy na die ma’s luister, gee baie genoeg huiswerk om die kinders ‘n hele middag besig te hou.
Elmarie sê deel van die probleem is dat onderwysers nie altyd die omstandighede van elke leerder ken nie. “Baie van ons leerders is primêre versorgers van hul huishoudings. Hulle het eenvoudig net nie tyd om met massas huiswerk te sukkel nie. Daar is egter onderwysers wat glo dat die kinders genoeg huiswerk gegee moet word om hulself besig te hou ongeag hul omstandighede. Hulle redeneer eenvoudig dat dit die kind se verantwoordelikheid is om die werk gedoen te kry.”
Ek help want dis net te moeilik/veel!
As jou kinders sê ‘n opdrag, taak of huiswerk is te moeilik, moet jy in die eerste plek probeer uitvind wat te moeilik is, sê Alet. “Sukkel jou kinders om die opdrag te lees, het hulle te min inligting, of is hulle net nie gemotiveerd om dit te doen nie. Soms is dit bloot dat die vraag te oorweldigend is. Wys jou kinders hoe om ‘n vraag op te deel deur met kleurpenne of highlighters sleutelwoorde te soek sodat hulle die vraag kan verstaan. Soms het jou kinders net nodig dat jy luister terwyl hulle die vraag vir jou voorlees. Die kurrikulum in ons skole is baie voorskriftelik en as jou kinders nie kan byhou nie, moet daar ‘n oorsaak wees. As jou kinders te veel buitemuurse aktiwiteite het, verminder dit!
“As die huiswerk te veel voel, help jou kinders om beter te beplan. Tussen watter tye moet hulle watter werk doen? Help ook met tydsbeplanning. As hulle vandag ‘n opdrag kry wat oor drie weke moet klaar wees, kan hulle nie die aand voor die tyd daarmee begin nie. Help jou kinders om take en opdragte in kleiner dele op te deel en vir die “afdelings” spertye op te stel, byvoorbeeld drie dae om inligting bymekaar te maak, daarna twee dae om deur al die inligting te lees, ‘n dag om die raamwerk te doen, ‘n week om die inhoud te skryf (wat jy dan nog verder in nog kleiner eenhede afbreek), twee dae om dit deur te lees en te verander, ‘n dag om te finaliseer, ensovoorts.”
Korttermynprestasie vs langtermynvaardighede
<drop>Ons almal wil die beste vir ons kinders hê. Dit moet so wees, sê Alet. “Maar onthou, jou kinders moet hul eie drome, ideale en doelwitte hê. Jou kind is nie jy nie en goeie punte is allermins ‘n versekering op sukses in die lewe. In ons vinnig veranderende wêreld is daar baie ander vaardighede wat jou verder gaan bring in jou stryd om oorlewing as ‘n A-gemiddeld! Leer eerder jou kinders aanpasbaarheid, emosionele vaardighede, hoe om te beplan en tyd te bestuur en hoe om met ander sosiaal te funksioneer. Moedig jou kinders aan sodat hulle trots wees op hul prestasie kan wees, maar leer hulle om baie meer trots op die poging te wees. As jou kinders weet hulle het hul bes probeer, hulle het iets geleer en dit geniet, kan hulle met reg baie goed voel – definitief beter as wanneer jy dit vir hulle gedoen het en ‘julle’ 100% het!”