Elsa Joubert se Die reise van Isobelle uit die jare negentig is pas heruitgegee
Dit voel soms of slegs nuwe boeke gelees word. Slegs die jongste publikasies word geresenseer en ongelukkig verdwyn ouer boeke sommer gou in die vergetelheid. Gelukkig het Tafelberg nou besluit om een van die belangrike Afrikaanse romans uit die 1990’s weer uit te gee. Elsa Joubert se Die reise van Isobelle het oorspronklik in 1995 verskyn. Dit is vir die eerste keer nou ook in ’n sagtebandweergawe uitgegee en as enigeen die roman nog nie gelees het nie, is dit nou die tyd. Dit is ’n omvangryke en ambisieuse roman waarin ’n eeu van Suid-Afrikaanse geskiedenis (van 1894-1994) vanuit die belewenisse van een familie verken word.
Elsa Joubert het veral bekendheid verwerf met haar roman uit 1978, Die swerfjare van Poppie Nongena. Hierdie roman is al in peilings as een van die invloedrykste romans uit Afrika gereken. Poppie het baie Afrikaners van die skrikwekkende effek van ’n politieke stelsel op individuele mense bewus gemaak.
Joubert het aanvanklik veral reisverhale geskryf. Dis interessant dat sy, anders as die meeste skrywers van haar generasie (sy debuteer net so knap voor die meeste van die Sestigers), nie op reis gaan na veral Frankryk en daar deur die Europese kunsstromings – die modernisme, surrealisme en eksistensialisme – beïnvloed word nie, maar eerder na Afrikalande reis. Hierdie reise en veral die invloed daarvan op haar denke en skryfwerk, word breedvoerig in die tweede deel van haar outobiografie Reisiger (2009) beskryf. Sy vertel byvoorbeeld hoedat sy tydens haar reis in 1948 deur die Soedan met groot opwinding deur die plaaslike inwoners van die Nasionale Party se oorwinning vertel word. Die Soedanese beskou dit as ’n oorwinning teen kolonisering. Die jong Joubert hoor egter die nuus met kommer, want sy besef dat hierdie gebeurtenis uit ’n gevaarlike Afrikanernasionalisme spruit wat tot uitsluiting en konflik gaan lei.
Hierdie spanning tussen ’n liefde vir Afrikaans, haar eie mense en haar familie, teenoor haar ongemak met nasionalisme, apartheid en Afrikaners se onwil om deel van Afrika te wees, loop deur haar hele oeuvre. Dit is ook boeiend in Die reise van Isobelle teenwoordig.
Die ervaring van die verbygaan van tyd en pogings om die verlede onder woorde te bring is sentraal in Die reise van Isobelle. Die roman begin met die einde van die Victoriaanse era (1894) en eindig met die einde van die apartheidsera (1994) en word vanuit die oogpunt van ds Josias van Velde (’n Afrikaanse dominee wat tydens die Boereoorlog ’n sterk nasionale gevoel ontwikkel wat hom in stryd met sy Engelse skoonfamilie bring) of deur vroulike lede van sy nageslag weergegee.
Hierdie bewuste ervaring van die einde van eras vestig die leser se aandag op die verbygaan van tyd en die verganklikheid van mense en hul idees tot op die punt van weemoed. Met die bewustheid van alles wat verbygegaan het so sterk teenwoordig, word aan die einde ook ’n nuwe era betree – een waarvan die patroon nog nie geken kan word nie.
Dit is uit individuele herinnerings, uit die getuienis van individue, wat die kollektiewe herinnering opgebou word. Die konsentrasiekampervaring is nie die dood van 27 000 vroue en kinders nie, maar die dood van ’n spesifieke vrou in ’n spesifieke tent en ds Van Velde se reaksie daarop. Die Groot Griep word nie onthou as 140 000 sterftes nie, maar as die sterwe van Vicky en Mother. Die ervaring van die 1938-herdenking van die Groot Trek is nie een van grootse euforie nie, maar van Belle se deelname aan die fakkelloop en Agnes se seksuele ervaring by die Voortrekkermonument.
Een van die roerendste dele van hierdie roman is die beskrywing van Belle se reis deur Afrika op die spoor van haar ma, Agnes Valeria. Sy raak op ’n Indiër verlief en die kortstondige verhouding het ’n verreikende invloed op haar.
Enigeen wat soms wonder oor wit wees, Afrikaans wees en emigrering; wat soms vasgevang voel deur die gelyktydige verbintenis van liefde en afsku teenoor jou mense, sal hierdie roman boeiend vind. Vk