JOHAN MYBURG
Die 11de Darling-musiekervaring, ook bekend as die Weskuns-klassiekemusiekfees, vind van 29 Januarie tot 14 Februarie in dié dorp sowat 80 km noord van Kaapstad plaas.
Dié fees het in 2006 tot stand gekom as ? geleentheid om klein konserte in ? plattelandse omgewing aan te bied. Die stukrag was die Britse dirigent David Tidboald, die Suid-Afrikaanse komponis Hendrik Hofmeyr en Alfred Legner, ? entoesiastiese musiekmens.
Van meet af aan was opera ? kardinale deel van die program. Maar in Darling is opera klassieke musiekteater met ? eietydse geur wat aangebied word as “opera alla breve” oftewel kameropera.
[iframe width=”222″ height=”485″ src=”https://www.thundafund.com/ProjectThumbnail.aspx?id=455″ frameborder=”0″]
Kyk na ? video met inligting oor die Darling-musiekervaring wat vanjaar op feesgangers wag.
Vanjaar se operaproduksie is Mozart se komiese opera Die Entführung aus dem Serail (Die ontvoering uit die harem) wat dan as “opera alla breve” aangebied word.
Dié onderneming volg op die 80 minute-weergawe van Mozart se Don Giovanni wat verlede jaar op Darling, op die Klein Karoo Klassique in Oudtshoorn asook in Londen op die planke was.
Volgens Legner is die oogmerk met dié indie-opera (onafhanklike operaproduksie) om reg te laat geskied aan Mozart se klassieke operas, maar om dit aan te bied in ? kontemporêre vorm wat toeganklik is vir gehore van die 21ste eeu in Suid-Afrika.
Oor vanjaar se aanbieding sê hy: “Met dié afgeskaalde produksie met die minimum rekwisiete en kostuums, met ? klavier as begeleiding en vyf briljante operastudente, kry gehore in Darling die geleentheid om verryk te word deur wonderlike musiek en kunstenaars.”
Die arias word in Duits gesing en die dialoog in Engels. Vandaar die Engelse titel The Abduction from the Seraglio wat gebruik word.
Die musiekregisseur en begeleier is Lisa Engelbrecht en die regisseur is Francesco Nassimbeni.
Engelbrecht het haar doktorale studie in musiek aan die Universiteit van Kaapstad juis gedoen oor klavierreduksie van opera as ? kunsvorm.
Daar benewens is sy ook bekwaam in stemonderrig en het sy in dié hoedanigheid ? hele paar produksies agter die rug.
Nassimbeni is benewens akteur ook regisseur. Vir sy regie van Done London is hy benoem vir die Rosalie van der Gucht-prys vir jong regisseurs.
Maudee Montierre (sopraan) vertolk die rol van Konstanze, Athenkosi Hoyi (sopraan) dié van Blondchen, Thando Mjandana (tenoor) dié van Belmonte, Tswakele Tshabalala (tenoor) dié van Pedrillo, Garth Deport (bas) dié van Osmin en Jason Potgieter die praatrol van die pasja.
Dié sprankelende komedie vertel die verhaal van die Belmonte, die held, wat met die hulp van sy dienskneg Pedrillo, sy geliefde, Konstanze, uit die harem van die pasja moet red.
Daar is twee aanbiedings van dié produksie in Darling se Perron-teater: op Saterdag 6 Februarie om 17:00 en Sondag 7 Februarie om 14:00.
Kaartjies kos R140. Bespreek by 022 492 2009 of [email protected].
Mozart en die baie note
Die Entführung aus dem Serail, K. 384, is op 16 Julie 1782 vir die eerste keer in die Burgteater in Wene, Oostenryk, aangebied met Mozart op die podium.
Die opera, geskryf in opdrag van die Oostenrykse keiser Josef II, was ? dawerende sukses. Nietemin het die keiser – volgens oorlewering – vir Mozart gesê die opera het “te veel note”. Waarop Mozart sou gesê het: “Daar is presies die hoeveelheid note wat daar moet wees.”
[iframe width=”350″ height=”197″ src=”https://www.youtube.com/embed/GrFbiw77_90?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Kyk na ? opname van die ouverture tot Die Entführung aus dem Serail, uitgevoer deur die Weense Simfonieorkes onder leiding van Fabio Luisi. Die opname is gemaak tydens die orkes se toer na Japan in 2006.
[iframe width=”350″ height=”197″ src=”https://www.youtube.com/embed/ULlfWSbBL9Q?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Kyk na die aria “Martern aller Arten” uit Die Entführung aus dem Serail. Die sopraan in die rol van Konstanze is Jennifer O’Loughlin en die akteur in die rol van die pasja is August Zierner. Dié produksie van die Weense Volksoper is in 2010 opgeneem.
Die plakkaat wat Francesco Nassimbeni ontwerp het vir The Abduction from the Seraglio in Darling.
Maudee Montierre en Zwakele Tshabalala tydens repetisie vir The Abduction from the Seraglio.
Lisa Engelbrecht en Delport Garth wat die rol van Osmin vertolk.
Thando Mjandana wat die rol van Belmonte vertolk in The Abduction from the Seraglio.
Foto’s: Storyteller ProductionsAnder hoogtepunte op die Darling-musiekervaringprogram
7 Februarie om 11:30 by die Darling-brouery: Die Belgiese pianis Philippe Raskin en die Oostenrykse violis Johannes Fleischmann speel sonates van Mozart, Beethoven en Richard Strauss.
13 Februarie om 18:00 in die ou Darling Presbiteriaanse Kerk: ? Klavieruitvoering deur die Duitse pianis Ingo Dannhorn. Die program sal mettertyd bevestig word.
14 Februarie om 11:30 in die Strandkombuis, Yzerfontein. Uitvoering deur die Dixie Swingers van Kaapstad.