Ons gesels in ons 29 Januarie-uitgawe met Irma Joubert oor haar skryfwerk en haar jongste boek Immer wes.
Immer wes handel oor ’n dogtertjie uit die Oos-Pruisiese adelstand met ’n liefdelose ma, ’n pa wat meestal omgee. Só begin Hildegard se verhaal. In 1914, toe die donker wolke wat oor Europa saamgetrek het, uiteindelik in die Groot Oorlog uitbreek, leer Hildegard vir die eerste keer hoe lelik die lewe daarbuite is, hoe afskuwelik oorlog, en wat ’n misleidende woord “oorlogshelde” is. Haar kinderlike verering van die Duitswester Gustav los op in die vlaktes van sy geliefde land waarheen hy terugkeer. Sy trou met ’n man – haar vader se keuse, as ‘n mens dit ’n keuse kan noem – wat min vreugde in haar lewe bring.
Teen die tyd wat die Tweede Wêreldoorlog ten einde loop, is sy intiem vertroud met die pyn van verlies en onderdrukking, armoede en hongersnood, en meer as ooit haat en verag sy oorlog. Maar dit is nie die einde van die reis nie. Dit besef sy eers toe sy en haar kind hulle weens omstandighede waarvan niemand sou kon droom nie, in Duitswes bevind.
Wat môre sal bring en waar sy en haar dogtertjie ’n heenkome sal vind, weet niemand. Soms weet sy nie of God haar nog hoor wanneer sy bid nie.
Ons vra Irma nog vrae:
Wat is die beste skryfwenk wat jy al ontvang het?
Gaan sit net en skryf. Te veel mense wil eendag skryf, maar begin nooit daarmee nie.
Wat leer jy uit jou oorsese boektoere?
Ek was op twee boektoere deur Nederland en het by meer as 20 verskillende plekke opgetree. Ek doen in Mei vir die eerste keer in Duitsland bekendstellings. Ek leer daaruit wat mense in boeke soek. Ek dink lesers van my tipe boeke soek ’n lekker storie met ’n sterk geraamte en baie vleis.
Wie lees jou eerste skrywes en hoeveel steur jy jou aan kritiek?
My seun Jan-Jan lees dit hoofsaaklik om feite te kontroleer, oud-kollega en vriendin Elize Gerber lees dit vir taalfoute en soms lees een van my ander vriendinne of kinders dit om te sê wat hulle dink werk en wat werk nie. Ek luister na enige kritiek, besluit of ek saamstem en probeer dan die werk verbeter.
Wat is die noodsaaklikste komponente van ’n goeie historiese roman vir jou?
Twee dinge: ’n lekker storie binne absoluut korrekte historiese feite.
Hoekom dink jy is jou boeke so gewild oorsee. Waarby vind mense aanklank?
Ek weet nie waarom lesers hier en oorsee van my stories hou nie. Miskien omdat dit net eenvoudige, eerlike stories is van gewone mense wat onder moeilike omstandighede (op ware gebeure gegrond) tog positief bly en bo alles uitstyg. Hoofsaaklik glo ek as ek suksesvol is, is die suiwer genade van Bo.
Wat lê op jou bedkassie?
Ek stapel beslis nie boeke langs my bed op nie. My Bybel lê daar en boeke wat ek nog wil lees, wag in die boekrak. Ek lees tans Chanette Paul se Offerlam.
Waar hou jy graag vakansie?
My gunstelingvakansieplek is die boendoes: woestyn-boendoes, Transkei-boendoes, Bosveld-boendoes, Afrika-boendoes.
Wat lees jy graag?
Ek lees hoofsaaklik historiese fiksie en veral nie-fiksie deur enige goeie skrywer.