Die Spier Light Art-fees is ’n gratis uitstalling van 18 werke wat met lig speel
Jy kan hierdie uitstalling op eie pas met ’n kaart verken, beskikbaar vanaf die Spier proelokaal of van Vadas Smokehouse & Bakery. Die uitstalling loop teen 31 Januarie 2019 ten einde.
Sommige werke is teen skemer sigbaar, ander se ligte word elke aand om 20:30 aangeskakel. Sommige lig-kunswerke het klank en beeld by, ander is staties. Die handige kaart gee volledige beskrywings van elke werk, vertel die kurator, Jay Pather.
Hy sê die werke bied aan elke besoeker die kans om op die pragtige wynplaas tussen die historiese geboue te stap, te vertoef en introspektief te kyk. Dis ’n wonderlike geleentheid om die natuurskoon, vars lug en sterre te geniet.
Een van die hoofwerke op die uitstalling, In die sterre geskryf, deur Berco Wilsenach, is in 2009 geskep as deel van ’n projek getiteld “Projek vir die Blinde Sterrekyker”. Die panele is van binne verlig en laat dit lyk asof daar duisende kolletjies in die lug sweef. Dis die eerste maal wat In die sterre geskryf buite uitgestal word en met die regte sterre wat bo Spier hang, betower dit jou soos net die grootte uitspansel kan.
Daar is verskeie eetplekke, waaronder Eight Restaurant, waar jy vars produkte van die plaas geniet; Spier Hotel Restaurant; die nuwe Vadas Smokehouse & Bakery of geniet ’n wynproe en kaas- en vleisbord by die dam.
Meer inligting by www.spier.co.za