Willie Burger kyk na Corlia Fourie se jongste roman, Tussen heinings
Willie Burger
Een van die karakters in Corlia Fourie se jongste roman, Tussen heinings, wil graag fiksie skryf. Sy word gedwing om van die huis af te werk – omdat daar te veel konflik by die kantoor van die tydskrif is waarvoor sy werk: “Sy weet nou wat die tema van haar storie moet wees: ’n groep vriende wat sin probeer maak uit hulle lewe in ’n tyd dat die reënboog van die nasie al begin verdof het. Maar hoe en waar om te begin? Dalk by ’n misdaad.”
Hiermee word die tema van Tussen heinings ook verwoord. ’n Groot groep karakters beleef die alledaagse werklikheid van Suid-Afrika: die probleme van huwelike wat op die rotse beland, ouers wat probleme met tieners het, tieners wat met jaloesie en groepsdruk sukkel, oumense wat verlies ervaar, gesinne wat oor die wêreld verstrooi is, die stryd tussen naywerige kollegas, die ekonomiese stryd van besighede om kop bo water te hou en die gepaardgaande dreigende afleggings en ook die stryd van so baie mense om bloot kos en klere en skuiling te vind, terwyl ander met vetsug sukkel.
Agter al hierdie spanning lê telkens individue se onsekerhede, hul behoefte aan erkenning en aanvaarding. Boonop hang die donker wolk van misdaad oor al hierdie spanning wat die alledaagse Suid-Afrikaanse realiteit in die voorstedelike huise tussen hul heinings kenmerk. Almal, ryk en arm, agter heinings verskans of haweloos uitgelewer, is deurentyd bang dat hulle beroof, aangerand, verkrag of vermoor gaan word. Fourie slaag uitstekend daarin om hierdie vrees vir misdaad, wat deurentyd in die gemoedere van die karakters bly huiwer, ook as bron van spanning in die roman uit te buit. Die leser verwag dat ellende een van die karakters gaan tref, dat iemand die slagoffer van misdaad gaan word.
Die effek van hierdie durende onderliggende vrees op almal word duidelik – ook op die leser. In talle romans oor hierdie tema loop dit op ’n uitsiglose katastrofe uit, of karakters vind aan die einde troos en hoop. Tussen heinings huiwer iewers tussenin. Soos in Corlia Fourie se debuutdrama, Moeders en dogters (1985), is daar geen “oplossing” aan die einde nie. En daarmee bevestig Tussen heinings ook dat die daaglikse sleur, die alledaagse probleme en die lewensbedreigende probleme, nie eenvoudig opgelos gaan word nie, maar ook nie noodwendig katastrofaal gaan eindig nie. Soms is daar vir mense, al sy dit kortstondig, geluk en begrip en oomblikke van vreugde.
Vertroue is egter skaars en bedreigbaar. Corlia Fourie het aanvanklik haar stempel as dramaturg afgedruk. Moeders en dogters is in 1985 vir die eerste keer opgevoer en is kort daarna deur Leuens en die ligter, komiese En die son skyn in Suid-Afrika opgevolg. Haar kinderboeke, Die meisie wat soos ’n bottervoël sing, Die towersak en ander stories, Heleen en die heks met hoofpyn en Stories met stertjies, het verskeie pryse gewen. Soos in En die son skyn in Suid-Afrika (1986) en in die roman Die oop deur (1996) is daar in Tussen heinings baie (hoofsaaklik vroulike) karakters en talle lang gesprekke tussen die karakters. Soos tevore in haar oeuvre – van Moeders en dogters af (dink byvoorbeeld aan die roerende kortverhale in Liefde en geweld) – word ook ondersoekend na die spanning in huisgesinne gekyk. Die titel, Tussen heinings, dui op die voorstedelike bestaan, waar almal uit vrees vir misdaad tussen hoë heinings leef.
Maar dit is ook waar mense as individue hulle bevind – elkeen agter sy/haar skanse in ’n poging om hulself te beveilig. Diegene wat ’n mens durf binnelaat, is min. Dikwels kan mense nie meer van agter hul skanse na ander uitreik nie omdat die vrees te groot is. Soms is die wat hulle wel binnelaat ’n gevaar of op hul beurt nie in staat om agter hul eie heinings uit te kom nie. Die roman bied ’n interessante kykie op die tydskrifwêreld – ’n wêreld waarvan Fourie, met haar jare lange ervaring as joernalis, intieme kennis het. Die stryd tussen ’n idealisme om “gehalteleesstof” te bied wat sosiaal en polities relevant en intellektueel stimulerend is aan die een kant en ’n antiintellektualisme en voorkeur vir sensasie en ontsnapping aan die ander kant, saam met die uitgelewerdheid aan die diktatuur van die mark, kom ook ter sprake.
Tussen heinings sou maklik afgemaak kon word as die blote uitbeelding van voorstedelike, Afrikaanse mense se vrese (ten spyte van ietwat lomp pogings om ook iets van die wêreld van huiswerkers en ’n hoopvolle Zimbabwiese immigrant te bied), maar anders as baie ander romans, is hier nie sprake van ’n nostalgiese verlange na ’n vorige tydperk nie. Nog belangriker: Fourie bied ook nie ’n moraliserende stem nie, geen beterweterige aanduiding van hoe alles behoort te wees nie, geen optimistiese geloof in verandering nie. Die enigste hoop in hierdie land, in hierdie wêreld, is op die alledaagse, klein oomblikkies van intimiteit, van vertroue tussen mense.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.