In Vrouekeur van 22 Januarie skryf Johan Myburg oor drie Suid-Afrikaanse kunstenaars wat in die KwaZulu-Natal Filharmoniese Orkes (KZNFO) se Somerseisoen optree. Die volledige program van dié eerste seisoen van 2016 word ook gegee.
JOHAN MYBURG
Die inligting hier onder is aanvullend tot dié rubriek.
Christopher Duigan, boorling van KwaZulu-Natal, het aan die Royal Northern College of Music (RNCM) in Manchester, Brittanje, gestudeer en was ook die wenner van die roemryke RNCM-prys vir pianiste. Hy word gereken as een van Suid-Afrika se voorste konsertpianiste en tree gereeld saam met die KZNFO en die JPO asook in die buiteland op. Benewens sy liefde vir die wye repertorium van kunsmusiek het Duigan ? besonder eklektiese musieksmaak. Saam met die Spaanse saxofoonspeler David Salleras het hy verlede jaar ? landwye toer onderneem en benewens egte flamenco-saxofoonklanke ook musiek ingesluit van Piazzolla en Richard Guiness.
Luister hier na Christopher Duigan en David Salleras se weergawe van Duigan se “Soledad”.
Pieter Schoeman
Pieter Schoeman het in 1991 die oog gevang van die violis Pichas Zukerman wat aanbeveel het hy studeer onder Sylvia Rosenberg in New York. In 1994 het hy haar assistent aan die Indiana-univeristeit in Bloomington geword. Schoeman is konsertmeester van die London Philharmonic Orchestra. As solis het hy in verskeie konsertsale opgetree: onder meer in Nederland, Rusland, Duitsland, die VSA en Brittanje. In 1995 is hy aangewys as die medeleier van die Orchestre Philharmonique de Nice. Hy tree dikwels as konsertmeester van orkeste in Barcelona, Bordeaux, Lyon, Baltimore en Rotterdam.
Pieter Schoeman (viool) en Alexander Zemtsov (altviool) is die soliste in die Dubbelkonsert vir viool en altviool (1932) van Benjamin Britten in dié opname van die London Symphony Orchestra onder leiding van Vladimir Jurowski. Op dié CD is ook die Variations on a Theme of Frank Bridge en Les Illuminations. Die sopraan is Sally Matthews.
Anmari van der Westhuizen
Anmari van der Westhuizen het ná haar studie aan die Universiteit van Stellenbosch haar verder bekwaam in Duitsland, onder meer aan die Hochschule für Musik in Keulen onder leiding van Maria Kliegel. Van der Westhuizen het die eerste uitvoerings gegee van tjellowerke deur die Oostenrykers Wolfgang Nenning en Hannes Heher en plaaslik het Hubert du Plessis en Hendrik Hofmeyr werk aan haar opgedra. Sy is lid van die Bloemfonteinse Odeion-strykkwartet en is mede-professor in tjello aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy is ook mededirigent van die Vrystaatse Jeugorkes.
Kyk hier na ? promosie-video vir Anmari van der Westhuizen (tjello) en Ilse Schumann (klavier) se CD waarop hulle uittreksels uit die Sonate vir tjello en klavier in g, op. 65 van Chopin, die Sonate vir tjello en klavier in a, op, 36, en die “Liebesleid” van Kreisler speel. Die CD kan bestel word op die webwerf www.anmarivanderwesthuizen.com.