Niemand het vir jou gesê die lewe gaan so moeilik wees nie! Maar dit is. Kry hier idees om jou stres gesond te bestuur
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Daar is al male sonder tal oor stres geskryf en of ons dit nou wil weet of nie, stres is ‘n onlosmaaklike deel van die lewe.
Tensy jy dalk iewers in die berge bly, jou eie organiese groentetuin het en die oggend met ‘n jogasessie begin …
Vir die res van ons, is dit werk, verkeer, slegte nuus in koerante en rekeninge by die dosyne.
Gelukkig is daar dinge wat jy kan doen om te ontlont en nuwe energie te kry.
- Begin om vroeër op te staan en ‘n paar minute stil deur te bring. Daaglikse stiltetyd kan wondere vir die gemoed doen.
- Maak die vorige aand al reg vir besige oggende sodat jy nie die dag oorweldig begin nie.
- Kyk na hoe jy tyd bestuur. Doen jy wat jy kan om te prioritiseer en jou lewe makliker te maak?
- Skryf alles in jou kalender neer en volg dit getrou.
- Waaroor het jy beheer en waaroor nie? Fokus op dit wat jy kan verander.
- Sê meer gereeld nee.
- Vind geleenthede om te ontspan.
- Doen dinge wat jou siel verryk. Lees en kuier gereeld saam met geliefdes.
- Kyk na jou dieet en sluit meer gesonde kossoorte in.
- Kyk na iets snaaks wat jou sal laat lag.
- Wat sit ‘n huppel in jou stap? Doen dit.
- As jy uitgestres voel, praat met iemand oor jou gevoelens.
- As jy voel dat die lewe jou onderkry, gesels met iemand professioneel. Kry hulp.
- Skryf in ‘n joernaal oor jou emosies.
- Wees gaaf met mense. Dit sal jou beter oor jouself laat voel.
- As iets jou negatief maak, vat ‘n blaaskans daarvan, soos Facebook.
- Is daar toksiese verhoudings in jou lewe wat jou siek maak? Doen iets daaromtrent.
- Kry ‘n projek waaroor jy passievol is.
- As jou werk te veel druk op jou plaas, gesels met iemand oor jou situasie. Kan julle iets verander? Kan ‘n kort blaaskans jou dalk weer nuwe krag gee?
- As jy voel dat jy gestres is, doen iets wat jou kalmeer. Luister na musiek, oefen, gaan stap, praat met iemand, mediteer, doen asemhalingsoefeninge.
Bronne: www.styleofchange.net
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.