Kerstyd is ’n wonderlike tyd van die jaar, maar dit kan ook besonder stresvol wees. Aandagtigheid kan jou help om dit werklik te geniet
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Aandagtigheid oftewel bewustelikheid en mindfulness in Engels beteken basies om bewustelik te leef. Elke dag. Dit is ook nie regtig iets nuuts nie, want daar is baie denkrigtings wat glo mens moet stadiger leef, laat gaan en dinge om jou waarneem. Maar hoe kan jy dit hierdie feestyd gebruik? Ons het ‘n paar wenke opgespoor:
Raak stil in die oggend
Begin jou dag deur jou koffie of tee in stilte te drink. Probeer om net op die oomblik te konsentreer en nie oor lysies en geskenke te wroeg nie. Dit vat net vyf minute om jou dag kalm te begin.
Skeduleer ektyd
Met kinders by die huis en familie wat by jou bly, kan dit vir jou voel asof jy geen tyd vir jouself en jou dinge het nie. Probeer om minstens ‘n paar minute per dag vir jouself te allokeer. Jy kan dalk alleen met die hond gaan stap of ‘n lang borrelbad vat. Moenie skuldig voel om jou gaste alleen te los nie, hulle soek dalk ook bietjie ruimte.
Maak dit spesiaal
Jaag jy dit af om geskenke toe te draai en die kaartjies uit te skryf? Maak dit vanjaar spesiaal. Skryf betekenisvolle boodskappe vir jou mense en stuur vir jou vriende ‘n persoonlike boodskap – nie net die generiese weergawes nie.
Bring tyd buite deur
Ons vier Somerkersfeeste in ons land en dit is ‘n heerlike tyd vir buitekuiers. Sit buite en kyk na die wolke en dit wat ons land so mooi maak. Kyk hoe die son sak en opkom.
Dink voor jy koop
Moenie jouself in skuld dompel nie en dink mooi oor elke kopie.
Vir kinders is daar baie idees: Iets wat hulle soek, iets wat hulle kan lees, iets wat tuisgemaak is en iets wat hulle kreatief kan gebruik.
Onthou: Een ding op ‘n slag
As jy oorweldig voel, vat dinge stadig en fokus op een ding wat jy moet doen.
Skryf neer
Om in ‘n joernaal te skryf, is ‘n wonderlike manier om stres te ontlont. Skryf neer wat jy voel en ervaar.
Dink oor die betekenis na
Wat beteken hierdie tyd vir jou? As jy ‘n Christen is, is dit dalk vir jou die tyd om oor die boodskap van Kersfees te dink. Wat ook al jou oortuiging is, gebruik die tyd om bewustelik te dink oor wat die feestyd vir jou menswees beteken.
Lees meer op www.thesustainableedit.com en www.rachaelkable.com