’n Nuwe studie bevestig dat kontak met mense in persoon, veel beter as die aanlyn weergawe vir jou is
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Jy klets heeldag met mense en groepe op Facebook, maar jy het eintlik min tyd vir kuiers saam met jou vriende en geliefdes.
Klink dit bekend? Het jy meer kontak aanlyn as met mense wat voor jou sit – in vlees en bloed?
Wel, nog ‘n studie bevestig dat sosiale kontak in ‘n mate beskerming teen depressie en simptome van posttraumatiese stresversteuring (PTSV) bied, maar dit geld nie vir kontak aanlyn nie.
Die studie deur Veterans Affairs Portland se gesondheidsorgsentrum en die Oregon-universiteit vir gesondheid en wetenskap het in die Journal of Affective Disorders verskyn. Dr Alan Teo, wat aan die hoof van die studie staan, sê dit is juis die kuiers saam met vriende en familie wat die meeste saak maak om simptome van depressie en PTSV te verminder.
Daar is al voorheen bewys dat sosiale isolasie met negatiewe geestegesondheid verband hou.
Sosiale ondersteuning kan as ‘n buffer dien teen stressors wat depressie, angstigheid en ander emosionele probleme laat toeneem.
‘n Facebook-gebruiker bestee gemiddeld 50 minute per dag op die platform.
In vandag se wêreld gesels baie mense met hul vriende en familie aanlyn. Dis deel van ons daaglikse liewe, maar hierdie aanlyn “kuiers” het nie so ‘n impak op ons geestesgesondheid soos regte egte kuiers nie.
Die slotsom? Klets aanlyn ja, maar reël ‘n regte egte kuier.
Klik hier vir die volledige artikel