‘n Nuwe studie waarsku die mensdom teen verskeie natuurrampe tegelykertyd as daar nie nou iets aan gedoen word nie
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Dis ‘n wonder dat daar nog mense is wat nie dink dat aardverwarming ‘n probleem is nie. Jy hoef net ‘n nuuswebwerf te besoek om van natuurrampe regoor die wêreld te lees.
Van wegholveldbrande tot orkane – dis amper asof dit ons nuwe “normaal” geword het.
Tot nou toe het wetenskaplikes rampe as gevolg van klimaatsveranderinge een vir een bestudeer, maar nou waarsku hulle dat gemeenskappe binnekort deur meer as een ramp gelyktydig getref kan word.
Navorser Erik Franklin sê teen die eeu se draai, sal ses klimaatskatastrofes op een slag gebiede kan tref, van hittegolwe en veldbrande tot verwoestende storms.
Erik wat aan die Universiteit van Hawaii se Instituut vir Marine-biologie verbonde is, sê ons sien reeds die vernietigende impak van klimaatsverandering op die aarde en dit gaan ongelukkig net toeneem.
Ons atmosfeer wat met koolstofdioksied, metaan en ander kweekhuisgasse oorlaai word, het lewensbedreigende gevolge. Dit begin met verhoogde temperature, wat gewoonlik in droë gebiede tot droogte, hittegolwe en brande lei. In natter klimate is die gevolg hewige reënval en vloede.
Aardverwarming skep superstorms oor oseane en hul vernietigende krag word deur stygende seevlakke versterk.
Verlede jaar het Florida in Amerika uiterste droogte, ekstreme temperature en meer as 100 veldbrande beleef sowel as Orkaan Michael, die kragtigste storm wat die gebied nog getref het.
Die navorsers sê die toekomstige risiko van verskeie omgewingsrampe hang van geografie af en of die mensdom daarin kan slaag om kweekhuisgasse te verminder.
Tropiese kusgebiede se risiko is die grootste en hulle kan tot drie klimaatsrampe tegelykertyd sien.
Daar word geglo dat die veiligste gebiede dan dié sal wees wat die naaste aan die poolgebiede is, soos Tasmanië en dele van Kanada en Rusland. Dit wil voorkom asof Groenland die minste geraak kan word. Dalk moet ons maak soos CNN sê: ‘n Stukkie eiendom in Groenland koop of daadwerklik ons deel vir die omgewing doen …
Klik hier om die volledige artikel te lees