Soos wat die term “klassieke musiek” algemeen gebruik word om kunsmusiek mee te beskryf, so moet “simfonie” of “simfoniese musiek” dikwels die lading dek vir enige vorm van “klassieke musiek”. Eweso word “simfonie-orkes” of “simfoniekonsert” sinoniem met klassieke musiek gestel. Wat nie altyd waar is nie.
Waar die verband wél bestaan, is tussen die simfonie as musiekvorm en die musiek van die era wat bekend staan as Klassiek – van so 1750 tot 1820.
In dié tydperk het die simfonie gedy. Uit die suite van die Barok en die sinfonia van die 17de eeu, wat breedweg enige instrumentale komposisie vir ’n groot ensemble of ? klein orkes ingesluit het, het die simfonie in die 18de eeu tot ‘n genre ontwikkel.
Die orkeste was nie besonder groot nie en die aanvanklike simfonieë is geskryf vir ‘n strykbesetting: eerste viole, tweede viole, altviole en ‘n bas (tjellos, kontrabasse en mettertyd ook fagotte).
Orkestrasie tipies van dié tyd het ingehou dat die strykers die musikale leiding moes neem terwyl die hout- en koperblasers net die harmonieë moes ondersteun en versterk het. Dikwels is die hulp van hout- en koperblasers ingeroep hoewel komponiste geen rol spesifiek vir dié instrumente geskryf het nie.
Maar gaandeweg het dié instrumente ‘n groter plek in die orkes ingeneem en al meer leidende rolle is aan hulle toegesê. Die basso continuo en daarmee saam die klavesimbel of klavier het verdwyn en die strykers het dié rol oorgeneem.
Die orkes wat Joseph Haydn (1732-1809) byvoorbeeld tussen 1760 en 1785 gehad het, het selde meer as 25 lede op enige gegewe tyd gehad. En dié het bestaan uit strykers, fluite, twee hobo’s, twee fagotte, twee Franse horings en ‘n klavesimbel. Van tyd tot tyd is trompette en pouke bygevoeg.
In navolging van Turkse militêre orkeste is perkussie soos die driehoek, simbale en ‘n bastrom bygevoeg.
Beethoven se simfonieë het al gevra vir ‘n orkesbesetting van 35 tot 40.
Ten opsigte van vorm het die simfonie aanvanklik uit drie dele bestaan: ‘n vinnige beweging gevolg deur ‘n stadige een en afgesluit met ‘n vinnige beweging. Gedurende die 18de eeu het vier bewegings die patroon geword. Omtrent die helfte van die Haydn-simfonieë is in drie bewegings en een van die beste voorbeelde van die Klassieke driebeweging-simfonieë is Mozart se Simfonie no. 38 in D, K. 504 (die sogenaamde Praag-simfonie) van 1787.
Kyk hier na ‘n opname van Mozart se Simfonie no. 38 in D, K. 504 (die sogenaamde Praag-simfonie). Die dirigent is Nikolaus Harnoncourt.
[iframe width=”350″ height=”197″ src=”https://www.youtube.com/embed/qcE-i0eI4CQ” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Die vierdelige simfonie het gewoonlik bestaan uit ‘n openingsonate (allegro), ‘n stadige beweging (adagio), ‘n minuet of scherzo en is afgesluit met ‘n finale (allegro of rondo).
Die eerste simfonieë was tussen agt en tien minute lank, dié van Haydn en Mozart so tussen 20 en 30 minute en dié van Beethoven heelwat langer. Beethoven se Simfonie no. 3 in E-mol, op. 55 (die sogenaamde Eroica-simfonie) van 1804 is byvoorbeeld 55 minute lank en sy laaste, die No. 9 in d, op. 125 van 1824, 70 minute.
Kyk hier na ‘n opname van Beethoven se Simfonie no. 3 in E-mol, op. 55 (die sogenaamde Eroica-simfonie) van 1804. Die dirigent is Daniel Barenboim tydens ‘n uitvoering van die 2012-BBC Proms.
[iframe width=”350″ height=”263″ src=”https://www.youtube.com/embed/InxT4S6wQf4″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Beethoven het die Eroica aanvanklik opgedra aan Napoleon Bonaparte, maar toe dié homself as keiser verklaar in 1804 het Beethoven sy naam op die voorblad van die partituur uitgekrap
Die BBC-aanbieder Katie Derham gee aan die hand van onderhoude agtergrond oor dié Beethoven-simfonie.
Klassieke simfonieë
Die opname van Mozart se Simfonie no. 38 deur die Skotse Kamerorkes onder leiding van sir Charles Mackerras is in 2012 deur die BBC Music Magazine aangewys as een van die 20 vername opnames die afgelope 20 jaar. Op dié album is vier simfonieë van Mozart opgeneem: No’s 38 tot 41.
Daar is talle opnames van Beethoven se Eroica-simfonie beskikbaar. Die Weense Filharmonie bly immer ‘n goeie keuse, of dit nou is met die voormalige dirigent Herbert von Karajan of met Claudio Abbado.