Om kinders groot te maak, is die moeilikste taak wat ek tot nou toe moes aanpak
Op die een of ander wonderbaarlike wyse het ek my twee kinders groot gekry. Maak nie saak hoe oud jou kinders is nie, ouers bly bekommerd en beskermend oor hulle. Soos ons een kollega op kantoor wie se jongste volgens sy juffrou “niks reg doen nie”. Dis nie net die ma wat vies is vir die juffrou nie – die hele VK-span staan bankvas agter haar.
Soos die lirieke in The Sound of Music lui: “…somewhere in my youth or childhood I must have done something good …”, moes ek iets in die grootmaakproses reggekry het, want albei my kinders is goeie en gawe mense. ’n Goeie mens is vir my iemand wat … … empatie met medemense het en nie vra:” “What’s in it for me?” nie. … kan dink – krities dink – en nie als vir soetkoek opvreet nie. … weet daar is nie net een “reg” nie. … elke dag by ander leer. … nie dink hoe ryker hoe beter nie. Uiteraard is dit nie net aan my te danke nie – my invloed is dalk minimaal. Baie mense het ’n aandeel in hul vorming: hul pa, hul geliefdes, my ouers, my broers, my geliefde, hul vriende en ’n klomp mense van wie ek nie eens weet nie.
Die invloed van onderwysers op kinders se emosionele ontwikkeling en mensword kan mens nie ontken nie. Maar dié munt het twee kante. Nie alle onderwysers se invloed werk ten goede nie. Nie alle onderwysers is goed en gaaf nie en nie almal het die wysheid, empatie, insig, deernis en emosionele intelligensie om ’n positiewe bydrae te lewer nie. Dis die lewe. Nie almal in alle beroepe is ewe goed nie. Ek het twee menings oor onderwysers:
Een: Soos dokters gekeur word om met menselewens te werk, moet onderwysers gekeur word om met menselewens te werk. Net die beste van die beste moet toegelaat word. As dokters nie weet wat hulle doen nie, sterf mense. As onderwysers nie weet wat hulle doen nie … Wel, mense kan emosioneel diep wonde opdoen … selfs daaraan sterf.
Twee: Soos dokters ruim vir hul verantwoordelike werk vergoed word, moet onderwysers ruim vir húl verantwoordelike werk vergoed word. Daar is onderwysers wie se invloed op die kinders in hul klasse van onskatbare waarde was en is. Soos mr John Keating in Dead Poets Society wat op een van die lessenare in die klas geklim het en gesê het: “I stand upon my desk to remind myself that we must constantly look at things in a different way.” Die Indiese wetenskaplike APJ Abdul Kalam het onder meer gesê: “Teaching is a very noble profession that shapes the character, calibre and future of an individual. If people remember me as a good teacher, that will be the biggest honour for me.” Hy’t ook gesê: “If a country is to be corruption free and become a nation of beautiful minds, I strongly feel there are key societal members who can make a difference. They are parents and teachers.” Mr Keating in Dead Poets Society is die verwesentliking van William Arthur Ward se siening oor onderwysers wat sê: “The mediocre teacher tells. The good teacher explains. The superior teacher demonstrates. The great teacher inspires.”
As meer onderwysers inspireer, gaan dit nie nodig wees vir ’n graadtweeseuntjie om bang te wees vir skool nie, want “Juffrou skree op my en sy hou nie van my nie”. Om ’n goeie onderwyser te wees, is een van die moeilikste take en goeie onderwysers is goud werd.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.