Baie mense dink geskiedenis is ’n vervelige spulletjie en assosieer die woord ‘geskiedenis’ vaagweg met verveling en met datums wat hulle op skool moes memoriseer, sê Willie Burger
Willie Burger
Die lang proses wat ons as mense gevorm het, wat ons gemaak het wat ons vandag is, is geen vervelige storie nie. Dit hang natuurlik af van hoe hierdie storie vertel word.
Wanneer dit goed vertel word, soos in die historikus, Yuval Noah Harari se blitsverkoper, Sapiens – A Brief History of Humankind, lei so ‘n storie oor die verlede tot insig in hoe die wêreld op die oomblik is – ons eietydse ekonomiese, politieke, biologiese en emosionele werklikhede word vir ‘n mens veel verstaanbaarder. Dan gaan die boek egter selfs verder en bied ‘n blik op moontlikhede vir die toekoms, en die belangrike besluite wat vandag geneem behoort te word om daardie toekoms vorm te gee.
Volgens Harari het drie groot revolusies die mensdom se geskiedenis bepaal: Hy beskou die “kognitiewe revolusie” van so 700 000 jaar gelede as die vertrekpunt van menslike geskiedenis, die “landbourevolusie” van 12 000 jaar gelede was verantwoordelik vir ‘n versnelling in die geskiedenis terwyl die “wetenskapsrevolusie” van 500 jaar gelede (wat steeds aan die gang is) moontlik selfs die einde van geskiedenis soos ons dit ken, kan beteken, terwyl dit bes moontlik die begin van iets heeltemal anders inlui. Sapiens – A Brief History of Humankind is met reg oral oor die wêreld ‘n blitsverkoper. Wanneer ‘n mens die verlede op hierdie skaal begin sien – as iets wat oor 700 000 jaar strek – verdwyn baie van die fyn besonderhede en emosies wat ons so dikwels beperk om die verlede te verstaan. Die boek is voor die onlangse fossielontdekkings hier by Sterkfontein in Suid- Afrika geskryf, maar wanneer ‘n mens die boek lees, besef jy ook sommer waarom hierdie ontdekkings so belangrik was.
Die kognitiewe revolusie waaroor Harari skryf, gaan oor die ontwikkeling van taal, van die mens se vermoë om te onthou, te leer, en om abstrak te kan dink. Veral die vermoë om te kan skinder, word deur Harari as ‘n baie belangrike ontwikkeling beskou. Taal het nie slegs mense in staat gestel om mekaar teen gevare te kan waarsku of van goeie kosbronne te vertel nie. Ook baie ander diere kan hierdie soort inligting kommunikeer (hy vertel van apies wat byvoorbeeld verskillende geluide maak om mekaar teen gevaar uit die lug en gevaar wat van die grond af dreig te waarsku). Omdat mense egter kan skinder, kan hulle alliansies vorm en sonder om oor alles tot die dood toe uit te baklei, bondgenootskappe vorm.
Verder het die ontwikkeling van abstrakte denke mense in staat gestel om groot ideale te skep waarvoor mense ook bereid was om saam te werk om dit te bereik – hetsy geloof in sekere gode, ‘n hiernamaals, ‘n “nasie” of ander ideale. Hierdie basiese ontwikkelings het uiteindelik tot die mens se oorheersing van die planeet aanleiding gegee. Die ontdekking van landbou en later die wetenskap, het die mens magtiger gemaak en die vrae wat gevra moet word, is waarvoor die mens al die mag moet aanwend. Interessante filosofiese vrae ontstaan – oor wat mense werklik gelukkig maak (ons weet dit is die serotonienvlakke in die brein, eerder as om die lotto te wen of magtig of bekend te wees. Hierdie gebeurtenisse bied maar telkens ‘n kortstondige gevoel van geluk). Hier aan die begin van 2016, is dit één boek wat die verlede vir jou in perspektief sal plaas en mooi oor jou Nuwejaarsvoornemens sal laat nadink
Wine, Women and Good Hope. A History of Scandalous Behaviour in the Cape is nóg ‘n boek wat jou al jou vooroordele oor die geskiedenis sal laat heroorweeg. Dit is snaaks en prettig en tog baie insiggewend. Te maklik, so herinner June McKinnon se boek ons, dink ons aan die mense uit die geskiedenis as sulke waardige helde, nie as mense wat ook soms te veel gedrink het, gefuif het en deur wellus oorval is nie. As historikus het sy afgekom op talle verhale van buite-egtelike verhoudings en oordadige drinkery, smokkelary en ‘n hele verskeidenheid van onwettige bedrywighede waarmee ons voorouers besig was. ‘n Mens mag dalk dink dat dit ‘n soort geskiedenis deur die lens van Son of Huisgenoot is, maar wat hierdie geskiedenis bied, is uiteindelik insig in die mensdom en al sy swakhede.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.