Willie Burger kyk na Breyten Breytenbach se versamelde toesprake
Willie Burger
Breyten Breytenbach is in Suid- Afrika in die eerste plek as digter bekend omdat hy al die jare, sedert sy debuut in 1964, steeds in Afrikaans aanhou dig het en oor vyf dekades heen sekerlik een van die grootste oeuvres deur ‘n enkele Afrikaanse digter opgebou het.
In Europa is hy eerder bekend as ‘n skilder en deur die jare van sy ballingskap in Parys het ons bitter min van sy visuele kuns in Suid-Afrika gesien. Gedurende die sewe jaar wat Breytenbach in die tronk deurgebring het omdat hy ‘n aktiewe ondersteuner van die ANC was en onder ‘n vals paspoort die land binnegekom het om mense vir weerstand teen apartheid te werf, het hy wêreldwyd bekend geword, veral ná die publikasie van The Confessions of an Albino Terrorist. Sy betrokkenheid by die politiek, soos die rol wat hy gespeel het om Suid-Afrikaanse leiers en kunstenaars met die verbode ANC in die buiteland te laat ontmoet (die Dakar-beraad en die Waterval-beraad), het ‘n invloed gehad op die manier waarop baie mense in Suid-Afrika gedink het.
Breytenbach het in digbundel ná digbundel Afrikaanse poësielesers verstom met sy verbysterende metafore, ‘n unieke en hoogs kreatiewe verwringing van Afrikaans en ‘n meesleurende, dikwels liriese klankrykheid, al is daar ook baie van sy gedigte wat as “moeilik” of selfs as “duister” beskryf kan word. Dit is egter nie slegs op die terrein van die letterkunde en beeldende kunste wat hy ‘n impak gehad het nie. Breytenbach het dikwels in die openbaar opgetree en telkens tot openbare debatte toegetree. Ook in hierdie toesprake en briewe verstom hy ‘n mens dikwels met die bondige en raak seggingskrag van sy woorde, maar dit word ook telkens duidelik dat hy ‘n fyn, kritiese denker is, ‘n uitstekende waarnemer van wat in die gemeenskap aan die gang is, en dat hy hom genadeloos teen onreg uitspreek.
Parool/Parole bevat 19 van hierdie toesprake of “ope briewe” wat Breytenbach tussen 1968 en 2015 gelewer het. Talle van die lesings is in die buiteland gehou en is dus in Engels, maar omtrent die helfte van die lesings, toesprake en briewe is in Afrikaans – sommige ook óór Afrikaans. Uit die aard van toesprake wat in spesifieke omstandighede gelewer is (soos sy toespraak tydens sy eerste verhoor), kan ‘n mens verwag dat daar ‘n bepaalde tydsgebondenheid aan sommige van die toesprake bly kleef en dat hulle daarom nou al agterhaal sou wees. Wat ‘n mens egter verstom, is hoedat elkeen van hierdie tekste oor hul spesifieke omstandighede van destyds uitstyg en telkens op verstommende manier insigte verwoord wat nou relevant is.
Sommige van die bydraes gaan spesifiek oor die letterkunde of die kunste, terwyl ander meer op sosiaal-politieke vraagstukke gefokus is. Watter tema Breytenbach egter ook aanroer, of dit oor Afrikaans, oor Afrika se toekoms, oor die aard en rol van kuns, oor die korrupsie van regerings of oor die gevolge van globalisering is, al sy uitlatings word telkens deur ‘n baie spesifieke manier van denke oor die wêreld onderlê. Die wins van ‘n bundel uitgesoekte toesprake soos hierdie is juis dat dit die leser die kans bied om te sien wat Breytenbach se denke deurgaans onderlê. Reg van die begin af staan die rol van die verbeelding, van kreatiwiteit, sentraal in sy denke. Aan die een kant is die klem op kreatiwiteit ‘n hoogs individuele saak. Elke mens het telkens nodig om op ‘n eie, unieke manier op sigself en die wêreld te reageer.
Elke mens kan slegs in die hede leef en bewus wees van wat nou met hom of haar gebeur. Vanuit hierdie bewussyn van die huidige oomblik, konstrueer ‘n mens ‘n verlede, jou eie geskiedenis en jou eie herinneringe, wat weer bepaal hoedat ‘n mens die hede beleef en hoedat jy die toekoms bedink. Aan die ander kant het kreatiwiteit, die verbeelding, ook ‘n rol te speel in die manier waarop ‘n hele gemeenskap hom beskou. Om werklik kreatief met hierdie prosesse besig te wees, verg dat ‘n mens nie sommer klaar bestaande opvattings oor jouself of oor jou groep kan aanvaar nie, maar deurgaans, elke oomblik, nuut moet reageer, met ‘n oopheid teenoor die wêreld en die mense wat ‘n mens ervaar.
Hierdie oopheid en pogings om altyd ander moontlikhede raak te sien, is die basis vir etiese optrede teenoor ander, vir geregtigheid. Een van die maniere waarop ‘n mens so oop kan bly, is om in die taal wat ‘n mens gebruik die clichés te vermy, om woorde telkens anders in te span, want daardeur word nuwe moontlikhede vir dink ook oopgemaak.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.