Jammer julle, maar vergun my tog kans om net ‘n bietjie te mor voor ek positiewer gaan wees. Is dit net ek of het vroue nooit vakansie nie?
Zerelda Esterhuizen
Jammer julle, maar vergun my tog kans om net ‘n bietjie te mor voor ek positiewer gaan wees. Is dit net ek of het vroue nooit vakansie nie? My verlof was so ‘n raps meer as twee weke lank en waar ek hier sit en tik kan ek nie glo dat ek môre weer moet werk nie.
Dit voel of ek my hele verlof net huis skoongemaak het, kaste reggepak het, speelgoed opgetel het, kosgemaak het en met kinders onderhandel het. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek is bly ek was af en daar was heerlike tye, maar ek’s moeg julle.
Ek droom van ‘n spierwit strand waar ek so 10 kilogram ligter in ‘n ontwerpersbikini pronk, met my man wat my met palmtakke koel waai en en skemerkelkies aandra en die geluid van branders wat klots. Ek wil slaaaaaap …
My medesusters in verdrukking kla net so lekker. My een kollega het gesê as sy nog een bord moes was of kamer en badkamer moes skoonmaak, gaan sy crack.
Klein kinders kan lekker mors. Toe ek so vyf minute terug verby my dogtertjie se kamer geloop het, moes ek eers aan die kosyn vashou. Sy het al wat stoel in die huis is in haar kamer ingedra waar sy vir die teddiebere “skoolhou”. Sy het water in klomp bakkies gegooi en daar is nie een skoon oppervlak in haar kamer nie. Dis net goed wat rondlê. Ek weet kinders moet kreatiewe vryheid hê om te kan speel en geniet, maar hemel, kan hulle dit nie net netjieser doen nie’n
Kyk, ‘n lang skoolvakansie kan jou nerwe kou en Ma van die Jaar het haar bes probeer om kalm te bly tussen sibbestruwelinge en die feit dat hulle my elke tien minute roep. “Mamma, sit vir my Blaze and the Monster Machines op” of die oudste se: “Mamma, jou kind irriteer my!”
As jy in Desember ‘n kind saam winkels toe vat, kort jy minstens 20 Rescue-tablette en Job se geduld. Teen die tyd wat jy by die huis kom, moet jy met ‘n klam lappie op die voorkop in ‘n donker kamer gaan lê.
Maar alles kom ook tot ‘n einde en die skool begin eersdaags. My
oudste gaan graad 2 toe en my jongste gaan graad 00 toe. My babas word groot.
Ma van die Jaar is nie gek na voornemens nie. Ek hou nie daarvan om myself teleur te stel nie, maar ek het wel ‘n paar doelwitte:
- Ek’s maar ‘n kommerkous en stres reeds oor my jongste wat net ‘n streep op ‘n papier trek en dink dis kuns. Hy weier om in te kleur en spring veel eerder van ‘n trap af terwyl hy “Superman” skree. Ek gaan probeer om rustiger te wees en minder te stres oor hul vaardighede.
- Ek is geneig om dinge te kompliseer en dit te “oordink”. Ek wil my brein “vasvat” en leer om eenvoudiger te leef en positiewer te dink. Minder te wroeg en Jeremia, ‘n titsel ekstra geduld kan dalk wondere vir my selfbehoud beteken.
- Ek wil luister as my kinders gesels. Sonder om vinnig op my selfoon te loer na wat ons president nou weer aanvang of watter tragedie iewers in die wêreld aan’t ontvou is.
- Ek gaan probeer om ‘n bietjie kreatiewer in die kombuis te wees en minder spaghetti bolognese en kitsnoedels te maak en vindingryker te wees soos om kollega Marlo se resepte meer gereeld uit te toets.
- Ek gaan probeer om minder geïrriteerd te wees met die kinders en probeer onthou dat hulle kinders is. Nie supermense of klein volwassenes nie, maar kinders.
- Ek wil graag ‘n gawer kollega, vrou, dogter, suster, ma en mens wees.
- En dan natuurlik het ek mos laas jaar begin om te Parkrun. Hoewel ek nog altyd enige fisieke oefening verpes het, wil ek graag my donderdye groet en weer in klere pas wat ek steeds in my kas hou … net vir ingeval. Só ek sal maar steeds hortend en sukkelend probeer om elke Saterdag daai 5 km te doen.
Ek wens ek kon loer en weet dat hierdie ‘n goeie jaar gaan wees en dat ons ten spyte van soveel probleme in hierdie land en soveel vrese, oukei gaan wees en dat ons kinders oukei gaan wees.
Ongelukkig gaan geen kristalbal vir ons die antwoorde gee nie. Ons kan net hoop, leef, wens, bid en wees.
Liewe blogleser, mag hierdie jaar vir jou en joune net goed wees.
Tot volgende keer.