Daar is min dinge so giftig soos iemand se slegte bui. Buierige mense het boonop die vermoë om almal in hul omgewing daarmee te infekteer.
Daar is min dinge so giftig soos iemand se slegte bui. Buierige mense het boonop die vermoë om almal in hul omgewing daarmee te infekteer. Dis asof hulle almal wil laat verstaan dit gaan sleg met hulle en dat hulle niemand dit gun om ’n goeie dag te hê nie. In dié week se artikel oor emosionele infeksie, kon ek nie help om te wonder wat buierige mense sal doen as hulle die dag regtig voor ’n problematiese situasie te staan kom nie en ek het aan my vriendin in die oorlog in Sarajewo gedink …
Jare gelede het ek vroegoggend in Sarajewo se hoofstraat na die ou deel van die stad geloop. Tekens van die oorlog wat kort tevore daar gewoed het, was steeds duidelik sigbaar. Geboue wat eens hotelle, huise, woonstelle en kantore was, het sonder voorkante en vensters soos gapende wonde getuienis gelewer van ’n slagting wat mense dood en vermink gelaat het. Die einste pad waarin ek geloop het, was die bekende straat waarin talle mense tydens die beleg van die stad uit die omliggende berge deur sluipskutters doodgeskiet is.
Ek kon nie help om te wonder in watter een van die vervalle woonstelle my vriendin se suster en haar geliefdes gewoon het nie. ’n Vrou nes ek – met drome, ideale, twee kinders en ’n wil om te lewe. Ten spyte daarvan dat sy ure in toue op ’n brood vir haar en haar kinders moes wag en die gevaarlike straat moes kruis om drinkwater te kry (bad was lankal iets van die verlede), het sy steeds aan die lewe bly vasklou. In ysige weer, sonder verhitting, het sy saam met haar kinders probeer oorleef.
Voor die oorlog was hulle ’n gewone gesin wat die rekeninge moes betaal, teater toe gegaan het, saam om ’n tafel gekuier het, kinders by die skool gaan aflaai en werk toe gegaan het – sy was ’n regter in die hooggeregshof en hy ’n mediese dokter by ’n bekende hospitaal. Die dag toe die mortier hul woonstel getref het, was haar man reeds begrawe nadat hy tydens ’n geveg gesneuwel het. Daar was geen waarskuwing nie, geen tyd om haar kinders te probeer beskerm nie. Binne oomblikke het haar lewe tot ’n einde gekom en is haar kinders wees gelaat.
Dié vrou se suster en ek het ná die oorlog in Griekeland bevriend geraak en dis daar waar sy my vertel het hoe die gesig van oorlog lyk. Dis daardie gesprekke wat my geleer het dat ons wat nie deur die hel van oorlog is nie, oor onbeduidende, beuselagtighede kla, wroeg, baklei en buierig raak.
Oorlog is ’n vreesaanjaende gebeurtenis, maar dis terselfdertyd ’n gelykmakende situasie. Of jy nou voor die tyd die hoof van ’n organisasie of die skoonmaker was, oorlog sit almal op dieselfde vlak. Dis dan wanneer jy besef die lewe gaan nie oor oppervlakkige dinge soos kompetisie, voorkoms, kwantiteit, status, beheer en gewin nie. Loeiende sirenes wat ’n bomaanval inlui, maak almal paniekerig en daar word nie onderskeid getref wanneer bomme op ’n stad neerreën nie. Daar is geen tyd vir stilstuipe oor ’n toiletsitplek wat opgeslaan is of sokkies wat nie in ’n wasgoedmandjie gegooi is nie (daar is nie toilette nie en as jy gelukkig is, dra jy jou enigste paar sokkies). Dis nie belangrik watter werk jy doen nie en ook nie hoeveel jy betaal word nie (daar is nie werk of geld nie). Die buurt waar jy woon, gee jou geen sosiale status nie (alle buurte word gebombardeer) en dis nie belangrik om die korporatiewe leer te klim nie (daar is geen professionele hiërargie meer nie).
In ’n oorlog ly almal op dieselfde vlak en die onmenslike situasie is slegs leefbaar deur mense se interaksie met mekaar. Dan raak ’n mens opgewonde oor klein dingetjies soos ’n paar verdwaalde stukkies steenkool wat hitte teen die winterkoue verskaf, of ’n kommetjie water wat jou buurman onder groot gevaar gaan haal het en met jou deel.
Hoekom sukkel ons so om in persoonlike en werksomgewings met mekaar saam te leef as daar nie bomme om ons val nie? Hoekom moet mense eers van alle gemak ontneem word, om die luukse van ’n bestaan in vrede te waardeer? Hoekom verklaar ons oorlog teen ander met ons houding en interaksie met mekaar? Hoekom laat ons toe dat buierige mense die gehalte van ons dag beïnvloed? ’n Kenner in die artikel oor emosionele infeksie verduidelik dat die proses waardeur emosies aangesteek word, primitief, outomaties en onbewustelik is.
Dalk moet ons liewer doelbewus ’n poging aanwend om mense in ’n mislike bui te vermy en aansteek by diegene wat weet dat die lewe te kort is om ’n emosionele oorlog met hulself en ander te voer.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.