Mez Karoo Kitchen is ’n baie klein, intieme eetplekkie op Barrydale in die Klein-Karoo
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s verskaf
Michelle Berry is die eienaar en sjef en vertel dat haar storie nege jaar gelede by die Barrydale Hotel, nou die Karoo Art Hotel, begin het. Ná drie baie uitputtende jare as sjef het sy besluit om te rus en dan weer te open as sy die energie het. Sowat 18 maande later het haar huidige plekkie oopgegaan en het sy as Mez begin sake doen.
Die bekoring van Mez, die verkorte weergawe van mezze – die sosiale saam-eet waar almal kos deel en uit die Midde-Oosterse lande kom – is dat jy in haar huis eet en kan sien hoe sy die kos in haar klein kombuisie voorberei. As jy gelukkig is, sien jy hoe haar regterhande in die kombuis se heupe op maat van die musiek swaai.
Haar spyskaart word op swartborde geskryf en sluit verskeie interessante disse uit Afrika in. Alles word daar in die kombuis gemaak.
Michelle vertel dat haar kosherinneringe by haar ouma begin het, wat destyds die St Georges Park-teekamer in Port Elizabeth bestuur het. Dis die teekamer waar Athol Fugard se toneelstuk, Master Harold and the Boys, afspeel. Sy het baie mooi herinneringe aan formica-tafels, outydse lekkergoed en Sondagmiddagetes wat deur haar rondborstige ouma berei is.
As jy ’n drankie kon wees, wat sou jy wees?
’n Lekker sopie tequila!
Het jy ’n gunstelingdis wat jy graag berei as jy tuis onthaal?
Die Klein-Karoo-kleftiko, want lam is die perfekte vertoonstuk van die omgewing se wonderlike bestanddele. En natuurlik het elke tuin in Barrydale ’n oordaad tamaties, en roosmaryn groei in elke kruiebak.
Waar en wat het jy studeer?
Grafiese kuns by die Port Elizabeth Technikon.
Wat is jou een swakpunt waarvoor jy alle reëls oorboord gooi?
My absolute swakheid is ons tuisgebakte brood – warm uit die oond met plaasbotter. En ek eet nie eers gluten nie!
Wat is jou geheim vir stresvrye onthaal?
My personeel. Hulle is so ontspanne, niks kry hulle onder nie en hulle hou ’n ogie oor my as ons weet dit gaan ’n besige aand wees!
LEES OOK: Sjef Janine Fourie
Na watter sjefs kyk jy op?
My koshelde is die eenvoudige plattelandse kokke, of hulle nou Mediterreens of Afrikane is. Hulle skep eenvoudige, weldeurdagte maaltye wat om geur en voeding gaan en die streek se geure verteenwoordig.
As jy enige drie mense vir aandete sou kon nooi, wie sou dit wees?
My drie seuns, wat mal is oor my kos. Hulle was ook my eerste drie gaste!
Wat sal jy vir hulle voorsit om te eet en te drink?
Noord-Afrikaanse harira (resep hieronder), lamsnek chilindron, ’n Spaanse lamsdis en rooswater-roomys met Marokkaanse krakerigheid (saadjies en roosstroop). Dit alles met ’n goeie, volronde rooiwyn en koffie en broskoek vir nagereg.
Wat is jou vroegtste herinneringe aan goeie kos en restaurante?
Ons het ’n paar jaar in Holland gewoon en ons het die heerlikste moorkoppen, (sjokolade éclair) en ook gerookte paling geniet. Terug in Suid-Afrika het my ouers ons na The Wooden Shoe in Seepunt geneem. Dit was natuurlik ’n Hollandse steakhouse, wat die biefstuk met klein Hollandse vlaggies bedien het.
As jy ’n dis kon wees, watter een sou dit wees?
Jollof-rys – ’n Wes-Afrika speseryagtige tamatiebasis-dis.
Hoe sal jou vriende jou as gasvrou beskryf?
Vriendelik en entoesiasties.
Wat is jou mooiste kinderherinneringe aan kos?
Hagelslag en vlokken, Hollandse soetsprinkels op witbrood
Hoe moet die perfekte tafel vir gaste lyk?
Natuurlike hout, of wit linne met wit borde, wit servette. Kos, blomme en ander detail om kleur te gee.
Wat is jou gunstelingkookboek?
Wat is jou mooiste sêding oor kos?
Dis nie mooi nie, maar dit het my die eerste keer wat ek dit gelees het, laat lag. Dis Arabies: “He who eats alone, chokes alone…” Ek hou daarvan, want dit moedig sosiale saam-eet aan.
Wat is jou grootste kosflater?
Te veel sout en dan, ek brand gereeld my kos aan.
Is daar een dis/metode wat jy lank gesukkel het om te bemeester?
Mayonnaise
Is daar iets wat jy nie berei nie?
Soufflé
LEES OOK: Sjef: Tamsin Snyman
Wat eet jy nie?
Kalfsvleis en foie gras
Wat was die maaltyd wat die grootste indruk op jou gemaak het?
’n Maal wat saam met vriende berei is, nadat ons self mossels versamel het. Ek is mal oor saam kook.
Kweek jy jou eie kruie en groente?
Ja, ek is versot daarop om groente vir die restaurant te kweek en groei ook my kruie. In die somer koop ek selde tamaties, want ek kweek ’n hele verskeidenheid. Ek het ook gereeld blaarslaai en spinasie in die tuin.
Is dit moeilik om goeie bestanddele op die platteland te kry?
Nee wat, die meeste van my produkte en vleis is plaaslik. Ek koop egter my speserye en Oosterse bestanddele in Kaapstad.
Waarsonder kan jy nie kook nie?
Suurlemoen, olyfolie en knoffel.
As jy vinnig iets aanmekaar moet slaan, wat kook jy?
’n Gevulde omelet en ’n eenvoudige slaai.
Wat gee daardie spesiale ietsie ekstra aan enige dis?
Suurlemoen
Wat is jou gunstelingkrui?
Tiemie, omdat dit so veelsydig is.
Waar kom jou inspirasie vir nuwe geregte vandaan?
Navorsing. Deur meer oor Afrika-kos te leer, het ’n hele nuwe wêreld vir my geopen.
Michelle se harira – Noord-Afrikaanse hoender-en-kekerertjiesop
Bestanddele
1 hoender, met vel en al in soutwater gekook
4 tot 5 eetlepels olyfolie
1 rooipeper en 1 geel- of groenpeper, in klein blokkies gesny
1 groot ui, in klein blokkies gesny
2 tot 4 groot knoffelhuisies, in dun skyfies gesny
3 teelepels gerookte Spaanse paprika (beskikbaar by Woolworths)
1 teelepel harissa of ½ fyngekapte brandrissie (opsioneel)
2 blikke heel geskilde tamatie, met die sap
1 blikkie kekerertjies
Sout en peper
Skil en sap van 1 suurlemoen
Koljander vir garnering
Metode
Verwyder die hoender se vel en ontbeen die karkas. Breek die hoender in klein happie-porsies. Hou die aftreksel. Braai die ui, knoffel en pepers in die olyfolie to sag, maar nie bruin nie. Voeg die paprika by en meng goed. Kook vir nog ’n minuut. Voeg die aftreksel, twee koppies water en die hoender by. Voeg die tamatie met sap by en dan die kekerertjies. Kook vir 10 minute of tot dit kook.
Voeg die suurlemoen by. Geur met sout en peper. As jy ’n dunner sop verlang, voeg meer water by, maar laat dan weer kook sodat die geure kan meng. As jy ’n dikker sop verlang, voeg ’n aftrekselblokkie by of nog ’n blikkie kekerertjies of gekapte spinasie.
Garneer met koljander voor jy opdien.