Oktober lui ’n nuwe era vir Fryer’s Cove Wynkelder in Doringbaai aan die Weskus in
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Hulle spog met ’n nuwe webwerf, aanlyn verkope en luukse verpakking, wat maar net enkele van die verwikkelinge is.
Sover bekend, is Fryer’s Cove Wynkelder die enigste kelder in die wêreld wat op ’n kaai in die see gebou is. Die kelder word uit ’n ou kreeffabriek, regonder ’n ligtoring bedryf en in die restaurant eet jy heerlike seekos, terwyl die branders amper om jou enkels klots. Die kreeffabriek was die rede vir Doringbaai se ontstaan in 1925.
Maar die oorvloedige kreef en bedrywige fabriek het in die sewentigerjare stil geword. Die dorpie het agteruitgegaan en ekonomiese probleme was volop. Dis met hierdie agtergrond wat ’n gemeenskap weer kon lewe kry met die vestiging van Fryer’s Cove Wynkelder in 1999.
Dit was die breinkind van Wynand Hamman, sy aanstaande skoonpa, Ponk van Zyl en sy aanstaande swaer, Jan. Jan is vandag ook ’n gekwalifiseerde wynmaker maar toe die planne vir die wynkelder begin het, was hy nog in matriek op Hoër Landbouskool Boland. Wynand het vir baie jare die wyn gemaak, maar op Stellenbosch gewoon en gewerk.
Jan boer vandag op die familieplaas op Vredendal, vanwaar die water vir die wingerde meer as 30 km gepomp word. Hy boer met wyndruiwe vir Namaqua asook groente. Hy het nog nooit wyn vir Fryer’s Cove gemaak nie. “Die idee was dat Wynand die wynmaak en kelder hanteer en ek die wingerd. Beide van ons het onderskeidelik meer ondervinding in hierdie afdelings gehad,” het hy vertel.
Fryer’s Cove het 4,5 ha Sauvignon Blanc. Die wingerde is skaars 500 meter van die branders en met net 50 mm reën per jaar én ’n ongenaakbare Suidwestewind, is elke oesjaar ’n geskenk van die natuur.
Vandag is die Jetty restaurant deel van Fryer’s Cove Gemeenskaps Ontwikkelingsprojek en hier berei die gemeenskap vars seekos met die bekroonde wyne. Hier kan jy nog snoekkoekies, kerrievis en roosterkoek geniet.
Gaste kon by die bekendstelling die kelder se vier wyne met peuselhappies proe. Die Bamboes Bay Hollebaksstrandfontein Sauvignon Blanc Reserve 2016 se naam is ’n mondvol, maar so ook die wyn. Hollebaksstrandfontein was die oorspronklike naam van die plaas Bamboesbaai en dis waar boere destyds vars water vir hul kuddes gekry het. Daar is net 2 034 genommerde bottels van die wyn beskikbaar.
Bamboes Bay Pinot Noir 2017 is net in klein hoeveelhede beskikbaar en nie net omdat die droogte almal se gordels ingetrek het nie, maar ook omdat die voëls ’n allemintige klomp druiwe voor die oes opgevreet het. Fryer’s Cove Wynkelder het net 0.5 hektaar Pinot Noir en daarom is net 3 940 genommerde bottels van dié kultivar en oesjaar beskikbaar.
Daar was ook aan Doringbay Sauvignon Blanc 2018 en Bamboes Bay Sauvignon Blanc 2017 geteug. Daar is net 16 846 genommerde bottels van hierdie wyn beskikbaar. Die Doringbay Sauvignon Blanc het die grootste getalle met 28 500 bottels beskikbaar.
Die nuwe verpakking sluit nie net ’n nuwe etiket in nie, maar ook ’n dik papieromhulsel wat die hele bottel soos ’n geskenk laat lyk. Francois Jansen van Rensburg, bemarkingsbestuurder by Fryer’s Cove, sê hulle wou ’n produk op die rak sit wat die kwaliteit reflekteer, maar ook uitstaan. “Na ’n paar papiervliegtuie deur die lug gevlieg het, kom ons toe op die unieke vou af wat soos ’n weskus-golf lyk. Jy kan die wyn oopmaak sonder om die papier af te haal.”