Almal met wie ek praat, deel die mening dat hierdie jaar teen ’n ongelooflike vinnige pas ten einde snel. Ek kan nie glo dis reeds Oktobermaand nie.
Almal met wie ek praat, deel die mening dat hierdie jaar teen ’n ongelooflike vinnige pas ten einde snel. Ek kan nie glo dis reeds Oktobermaand nie. Dit voel soos gister wat ons 2011 se beplanning gedoen het om elke week ’n Vrouekeur op die rak te hê en nou is ons reeds besig met 2012 se raamwerk. Om elke week ’n tydskrif persklaar te kry, is geen maklike taak nie – dit verg ure se harde werk van elkeen wat deel van die Vrouekeur-span is. Boonop moet ons goed kophou, want ons werk gelyktydig aan drie uitgawes om te verseker dat daar inderdaad elke week betyds ’n tydskrif op die rak is. G’n wonder nie een van ons in die kantoor is ooit seker wat die datum van die dag is nie, want in ons koppe is daar drie!
Met die beplanning van elke uitgawe poog ons om onder meer betekenisvolle artikels te plaas wat ’n mens kan help om begrip vir jouself en ander te kry en dinge in perspektief te sien. Die drie artikels wat ons dié week op die voorblad onder gesinsdilemmas uitgesonder het, het my net weereens laat besef hoe kompleks menslike verhoudings is. Ons interaksie met mekaar, of dit nou in gesins- of werksverband is, bepaal dikwels ons gemoedstoestand en die uitwerking daarvan het ’n rimpeleffek op diegene met wie ons saamleef of saamwerk. Uit al drie artikels blyk dit dat kommunikasie in verhoudings van kardinale belang is. ’n Gebrek daaraan kan ’n verhouding belemmer en laat kwyn, terwyl aggressiewe kommunikasie eweneens pyn en hartseer veroorsaak. Deur te praat, kan ons begrip vir mekaar se frustrasie, vrese en onsekerhede kry. En laat ons nou maar eerlik wees, ons het almal bagasie wat ons saamdra wat ons optrede beïnvloed.
Vir my is die lewe gewoon te kort om te baklei en ek glo vas dat die meeste probleme uitgesorteer kan word as ons daaroor praat. Maar dikwels is dit belangriker om net te luister na wat die ander een te sê het. Deur te luister, gee jy erkenning aan ’n ander mens se mening en menswaardigheid. In die artikel “Ma is aggressief!” is een van die bekende punte wat die kenner uitlig as ’n teenvoeter vir ’n woedeuitbarsting om diep asem te haal en tot 20 te tel. Dit gee jou tyd om te dink. En ons dink nie genoeg nie. Ons wil terugbaklei, ons standpunt stel, die geveg wen, die laaste sê hê, of sommer so uit die heup skiet in die hoop dat ons die kol tref.
’n Vriendin van my het jare gelede in ’n gesprek oor verhoudings ’n belangrike ding kwytgeraak. Sy’t gesê sy sê nooit sy’s jammer nie. Dit het my eers heeltemal onkant betrap omdat dit myns insiens uiters arrogant geklink het, maar sy het dit met haar eiesoortige sin vir humor verduidelik: “Ek hou nie daarvan om te erken dat ek verkeerd was nie, daarvoor is ek te trots, daarom dink ek baie goed oor dit wat by my mond uitkom. As ek dink ek gaan iets sê wat ek gaan moet terugtrek, sê ek dit liewer nie. Ek tel tot 100 as dit moet, voor ek in woede iets sê.” Sy het geleer om eers goed te luister, te dink en dan kalm daaroor te praat. Haar optrede het menige plofbare situasie ontlont en geen ruimte vir krenkende en venynige woorde gelaat wat ’n latere verskoning geverg het nie. Nou kyk, of dit altyd moontlik is, weet ek nie. Die meeste van ons se nekhare rys makliker as wat ons ’n wag voor ons mond sit, maar teoreties maak haar stelling sin. Die punt is, woede-uitbarstings is ’n lelike ding. Dis nie teelaarde vir vertroue, liefde en respek nie.
In ’n mediakantoor, waar die druk hoog is, spertye spanning opjaag en ’n klomp kreatiewe, passievolle mense saamwerk, is dit maklik vir humeure om op te vlam. So ’n tyd gelede stap twee kollegas van ander tydskrifte deur ons kantoor en merk teenoor mekaar op dat daar ’n gevoel van rustigheid in die Vrouekeur-kantoor is. Dit kan wees dat ons gewoon nie tyd vir struwelinge het nie, maar ek dink dis eerder omdat ons mekaar verstaan, vertrou, waardeer en respekteer, wat dit ’n gelukkige omgewing vir almal maak. Al het ons by die afgelope Caxton Excellence Awards-geleentheid met ’n klomp pryse weggestap, is dít vir my ’n eerste prys. Dit, en lesers se telefoonoproepe, e-posse, briewe en facebook-boodskappe om te sê ’n artikel het vir hulle iets beteken.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.