Aandagtigheid of bewustelikheid is een van die groot gonswoorde van ons tyd. Daar word dikwels raad gegee oor hoe om meer bewustelik te leef en dit raak ook toenemend gewild om bewustelik te eet, maar hoe doen mens dit? Zerelda Esterhuizen vind uit
Hoe lyk jou daaglikse eetplan? As ek by die werk is, is myne of pap, beskuit of jogurt in die oggend, later vrugte en vir middagete oorskietkos of ‘n broodjie. Aandete word vinnig gemaak en vinnig geëet, want alles is mos deesdae ‘n gejaag. Ons rammel etes af en doen dit soms sommer staan-staan.
Maar as jy regtig gesonder wil leef, sê die kenners, dan moet jy dink oor wat jy in jou mond sit en dit gaan hand aan hand met bewustelike eetpatrone.
Aandagtigheid gaan juis daaroor om in die oomblik te leef en van als om jou bewus te wees, veral jou ervaring en emosies.
Hier is ‘n paar wenke om meer aandagtig te eet:
- Begin met slegs een maaltyd per dag wat jy meer aandagtig wil eet. Kies een en werk dan daaraan om die nuwe roetine vol te hou.
- Voor jy begin eet, dink eers oor wat jy ervaar. Is jy werklik honger? Is jy vies? Onvergenoegd? Dink daaroor en waar die emosies vandaan kom.
- Skenk aandag aan dit wat jy eet. Moenie TV kyk of werk terwyl jy eet nie.
- Waardeer wat jy het. Dink oor die prosesse wat daartoe gelei het dat jy nou kos op jou bord het.
- Eet met al jou sintuie. Let op na die geur, die kleur, die smaak en die tekstuur.
- Hou op eet as jou versadig is.
- Eet uit kleiner borde, want dit beteken kleiner porsies en ‘n mens voel voller as jy sien dat jy ‘n bord vol kos geëet het.
- Eet met kleiner eetgerei.
- Moenie die opskepbakke op die tafel hou as jy eet nie.
- Maak gesonder kos meer toeganklik in jou huis.
- Beheer porsiegroottes.
- Eet as jy honger is.
- Berei gesonde versnaperings voor sodat jy daaraan kan peusel.
- Hou ‘n kosdagboek en skryf neer wat jy eet. Kyk ook na jou kossnellers.
- Eet stadiger. Kou stadig en sit jou vurk neer tydens happies. Proe werklik elke happie. Neem nou en dan ‘n slukkie water.
Leer meer hier:
ww.livewellutah.org
www.health.harvard.edu
www.jeanhailes.org.au
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.