Daar is al baie studies oor geluk gedoen en dit wil lyk asof jou persoonlikheid ‘n invloed daarop kan hê
Sielkundiges het al honderde studies oor geluk gedoen – juis oor wat mense werklik gelukkig maak. Daar word gewoonlik gedink dat jou omstandighede jou geluk bepaal, soos jou salaris en jou geliefdes. Natuurlik is hierdie faktore belangrik, maar dit lyk asof jou persoonlikheid ‘n groot rol daarin speel.
Volgens ‘n artikel op www.theconversation.com is daar ‘n verband tussen jou persoonlikheid en verskillende aspekte van jou welstand. Een kenmerk veral speel ‘n groot rol en dis ekstroversie. Dit beskryf tot hoe ‘n mate jy uitgaande, sosiaal en selfgeldend is.
Sielkundiges het ‘n paar jaar gelede begin om studies te doen oor of mens gelukkig kan word deur meer soos ekstroverte op te tree. Verskeie studies het die idee toe bevestig. In een eksperiment moes mense tydens een taak soos ekstroverte optree en hulle het gelukkiger gevoel. Selfs introverte het tydens die eksperimente dit geniet om soos ekstroverte op te tree.
Hierdie bevindings toon dat ekstroverte gedrag doeltreffend kan wees om jou welstand te verhoog en potensieel die basis van welstandsprogramme kan vorm.
In ‘n nuwe studie wat in die Journal of Experimental Psychology: General gepubliseer is, is daar gevind dat mense wat soos ekstroverte moes optree, groot voordeel daaruit getrek het en mense wat van nature ekstroverte is, is die meeste daardeur bevoordeel. Diegene wat wel groot introverte was, het geen voordeel daaruit getrek nie, want dit was net te ongemaklik vir hulle. Daarom glo die studieleiers dat dit eintlik tot jou nadeel kan wees om buite jou karakter op te tree.
Die studieleiers sê ons persoonlikheid vorm ons lewe, maar dit verander ook en daarom kan ons onsself verander. Geen persoonlikheid is so vas dat nie kan verander nie.
Die studie sê ook nie dat jy ‘n ekstrovert moet wees om gelukkig te wees nie.
Daar is dus geen groot geheim vir geluk nie. As ons aan ons welstand wil werk, moet ons leer hoe om dit rondom ons persoonlikhede te bou, skryf hulle.
Hierdie artikel het op theconversation.com verskyn. Klik hier om die volle artikel te lees