Stop die wêreld, ek wil afklim, skryf ’n vriend onlangs op sy Facebook-blad
Voel ons nie maar almal soms so nie? Ek dink ons almal vra ook soms die vraag: Is dit nou dit? Ek voel só op Maandae. Klokslag. Op Maandae durf ek nie groot besluite neem nie, want op ’n Maandag beleef ek telkens ’n effense eksistensiële krisis en groot besluite moet mens liefs nie in so ’n gemoedstoestand neem nie.
As mens boonop drie weke in Griekeland vakansie gehou het, hunker jy met jou terugkeer na die vryheid, die verandering en die veiligheid wat nog vlak in jou geheue lê. Dan is Maandag die dag wat jy ’n buitegewone drang het om jou tas te pak en daar te gaan woon. Daar waar jy vry was van die daaglikse gejaag, waar jy die vreemde kon verken en dít sonder om bang te wees. Ek is nugter genoeg om te weet dat geluk nie ’n plek is nie. As jy inherent ongelukkig is, gaan jy op enige plek waarskynlik ongelukkig wees, want jý is daar.
Maar so eenvoudig is dit nou ook nie, want dan kan jy die argument voer dat redakteursbrief die mense in oorloggeteisterde lande soos Sirië, en mense in vlugtelingkampe net hul ingesteldheid moet verander en dan sal hulle gelukkig wees. Dis tog onsin. So, hoekom voel mense soos ek op ’n Maandag om êrens ver op ’n eiland te gaan woon? Ek dink dit is omdat die dolle gejaag (na wat?) soms net te oorweldigend is.
Anne Marais kyk hierdie week na terapie as die einste dolle gejaag jou soms onderkry (bl 24). Papierterapie, sê die kenners, kan dalk help dat jy nie te dikwels die wêreld wil laat stop nie. Daar moet iets in hierdie vorm van terapie steek, want hoewel ’n kenner in die artikel wys op die onderskeid tussen die terapeutiese beoefening van kuns en kunsterapie wat onder ’n opgeleide en geregistreerde kunsterapeut gedoen word, het ek nou al geleer dat ek ná werk op ’n Maandag my verfkwaste moet opneem en iets verf.
Nog iets wat vir my terapeuties is, is tuinwerk. Dis mos asof jy jou kop so klein bietjie skoner kry as jy in die grond werk. Hierdie week se Kwaskenades (bl 46) is 24 is ’n goeie voorbeeld van dit wat vir my werk as ek wil stop en afklim. Ek kon verf en plant met dié projek. Dit het my vreugde verskaf, maar hierdie afgelope Maandag het ek met my oggendkoffie in die hand na my handewerk gesit en kyk en gedink: Maar ek kan dit mos op ’n eiland ook doen?
Dalk doen ek dit nog en volg ’n vriend se raad in sy kommentaar op ’n foto wat ek tydens my vakansie op my Facebookblad geplaas het: “Bly net daar! Live off the land.” Een Maandag is dalk net daai Maandag, maar tot dan sal ek skryf, verf en tuinmaak, want soos die beroemde skrywer, Graham Greene gesê het:
Writing is a form of therapy; sometimes I wonder how all those who do not write, compose or paint can manage to escape the madness, melancholia, the panic and fear, which is inherent in a human situation
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.