Leoš Janáček se Strykkwartet no 2, bekend as Intimate Letters, is een van die voortreflikste kamermusiekwerke van die 20ste eeu
Deur JOHAN MYBURG
The Unbearable Lightness of Being, die rolprentweergawe van Milan Kundera se gelyknamige roman, speel tydens die Praagse Lente van 1968 af. Tomas (Daniel Day-Lewis), Sabina (Lena Olin) en Tereza (Juliette Binoche) is die drie hoofkarakters wat in dié tyd van bevryding (van Sowjetoorheersing) aan artistieke, intellektuele en romantiese ontwaking in Tsjeggo- Slowakye gestalte gee. Vir die rolprentweergawe het regisseur Philip Kaufman in die plek van Beethoven, wat in die Kundera-teks figureer, die musiek van die Tsjeggiese komponis Leoš Janáček (1854–1928) gebruik.
Hoewel Janáček 40 jaar voor die Praagse Lente dood is, is sy musiek gebruik juis omdat sy musiek op “die gewone mens” gemik was; omdat hy sy invloed gebruik het om klassieke musiek vir ’n ieder en ’n elk te skep. Dit was veral Janáček se insluiting van die volksmusiek van Morawië – die musiek wat voor hom ook Antonín Dvořák en Bedřich Smetana beïnvloed het – waarmee hy die Tsjeggiese vlam van hoop aangeblaas het. Teen die einde van die 19de eeu het Janáček aan dié volksmusiek ’n podium in Praag gegee en hy was die eerste komponis wat die tradisionele musiek van die Morawiese streek in Tsjeggo-Slowakye op ’n fonogramplaat opgeneem het. Hy het aantekeninge gemaak van die manier waarop mense op straat praat, van kort frases, van melodieë en ritme, en dit is juis hierdie elemente wat sy musiek soveel van ’n spraak- of praatstyl gee (die sogenaamde praatmelodieë).
LEES OOK: Klassieke klanke: Diana Damrau
Sy sukses het ná die Eerste Wêreldoorlog met sy opera Jenufa gekom. Daarna het die operas Kát’a Kabanová en die een waarna in Engels verwys word as The Cunning Little Vixen, die Glagolitiese mis en twee strykkwartette gevolg. In 1917 het Janáček die jong Kamila Stösslová ontmoet en ’n tyd lank was Kamila vir Janáček en sy vrou, Zdenka, soos ’n dogter. Maar teen die middel van die 1920’s het Janáček smoorverlief op Kamila geraak en daagliks vir haar briewe geskryf. Kamila was nie juis ’n briefskrywer nie – sy was nie naastenby so geletterd soos haar minnaar nie – en dié korrespondensie is terugskouend nie die bejaarde Janáček se grootse bydrae nie. Uit ’n biografie van Janáček wat onlangs verskyn het (dié van John Tyrrell) kom dié voorbeeld: “My angel! My muse! You who light my divine spark! I went to the shops today, the price of milk is something shocking.”
Maar die Strykkwartet no. 2, bekend as Intimate Letters, wat hy as “manifes van die liefde” in die jaar van sy dood (1928) geskryf het, is een van die voortreflikste kamermusiekwerke van die 20ste eeu. Dit is onder meer dié strykkwartet wat Kaufmann kwistig gebruik in die liefdestonele in The Unbearable Lightness of Being – nie net wat speelse flirtasie betref nie, maar ook (veral die laaste beweging) met betrekking tot tonele van onsekerheid en onvermydelike gevaar. In die somer van 1928 het Kamila met haar man en 11-jarige seun die 74-jarige Janáček besoek. Op 6 Augustus het hulle gaan stap en die kind het in die woud weggeraak. Janáček het aan die soektog deelgeneem, maar ’n verkoue opgedoen wat tot longontsteking vererger het. Minder as ’n week later is Janáček, een van die belangrikste Tsjeggiese komponiste van die 20ste eeu, dood. Op sy versoek is musiek uit die laaste bedryf van The Cunning Little Vixen op sy begrafnis gespeel.