Ons klompie vroue op kantoor verskil in talle opsigte en hou uiteraard van klomp verskillende dinge
Ons is lekker uiteenlopend, maar daar is drie dinge wat ons almal deel: Ons hou van mekaar, ons hou van Vrouekeur en ons hou van stories. Boeke maak ons opgewonde en ons gesels graag oor al die boeke wat ons al gelees het en nog wil lees.
Daardie leeslus en leesliefde deel ons ook met ons splinternuwe verhaleredakteur, Melt Myburgh. Melt is ’n digter wat in 2011 met die Ingrid Jonker-prys bekroon is vir sy debuutbundel, Oewerbestaan. Hy woon in Johannesburg en werk vir die wêreld se grootste uitgewershuis. Voorheen was hy meningsbestuurder by LitNet en projekbestuurder vir die US Woordfees. Welkom, Melt, ons sien uit na die verhale.
ELDALEEN Die skrywer van A woman in Berlin, een van die beste boeke wat ek pas gelees het, wou anoniem bly. Sit dit op jou leeslys – dit is briljant!
ANLIE Ek sien uit na WG Sebald se Austerlitz.
DANÉ Ek wil al lank die Harry Potter-reeks lees. Ek hoop ek gaan een van die dae daarby uitkom.
CHRISTA Ek gaan intussen seker nog ’n hele paar boeke lees, maar die groot een waarna ek uitsien, is Deon Meyer se Prooi in Oktober.
JE’MAINE Volgende op my lysie is Robert Harris se Pompeii en Paulo Coelho se The Spy.
ZERILDA The Season of Glass deur Rahla Xenopoulos.
ZERELDA Ek lees tans Paulo Coelho se The Spy en dan wag Orhan Pamuk se The Museum of Innocence op my bedkassie.
MARGOT The Buried Giant deur Kazuo Ishiguro.
NATASHA Ek het ’n hele boks ou classics die afgelope paar maande bymekaargemaak en ek kan nie wag vir die Desember-vakansie om te begin lees nie! Die nuwe verhale het ons ook aan nuwe leesstof laat dink en ons het almal op kantoor gevra wat volgende op hul leeslys is:
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.