As ons nie selfbeheersing gehad het nie, het ons maklik ons kollegas met fone gegooi! Dis nooit te vroeg om jou kind die waarde van selfbeheersing te leer nie
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
- Wees duidelik oor reëls en verwagtinge. Dis veral belangrik vir jong kinders. Verduidelik wat reëls is, wat dit behels en wat van hulle verwag word. Verduidelik ook wat is geskik en wat nie. Hoe duideliker die reëls, hoe meer konsekwent jy in die toepassing daarvan is, hoe makliker is dit vir jou kinders om te begryp en aan jou verwagtinge te voldoen.
- Volg ‘n voorspelbare roetine. Ons almal weet dat kinders op voorspelbaarheid floreer en ‘n roetine sal hulle met die oorgang na verskillende fases by die skool help. Dit sal ook met die uitdagings van elke dag help. Stel duidelike grense oor verskillende aktiwiteite en wys wat orals verwag word.
- Herinner, herinner, herinner. Hoe jonger ‘n kind is, hoe makliker kan die kind se aandag afgelei word. Herinner jou kind aan wat selfbeheersing beteken en hoe ‘n mens dit kan toepas. Gee ook voorbeelde.
- Positiewe bevestiging is ‘n wonderlike tegniek om kinders te help om goeie gedrag te herhaal. Wat dit basies beteken, is dat jy goeie gedrag erken en bevestig. Plakkerkaarte werk byvoorbeeld goed vir jong kinders.
- Wees konsekwent. As jy waarsku, en jou kind hou aan, moet daar gevolge wees. Anders besef jou kind dat jy nie ernstig opgeneem hoef te word nie.
- Wees ‘n goeie rolmodel oor hoe selfbeheer toegepas moet word. Haal diep asem as jy kwaad is, dink twee keer voor jy reageer en gebruik geskikte taal om jou gevoelens uit te druk.
- Maak selfdissipline prettig. Wys vir kinders hoe om hul stres te beheer. Dink hier aan borrels blaas vir jong kinders, wys vir ouer kinders hoe om rustig asem te haal en kyk ook na maniere soos om agteruit te tel en dies meer.