Wat ek deur al hierdie fiktiewe karakters en my rêrige familie geleer het, is dat mens nooit te oud is om dinge te doen en die lewe te geniet nie, al word jou wêreldjie soms kleiner soos jy ouer word.
Ek het nou kort drie boeke gelees waarvan die hoofkarakters “ou” mans is. Die eerste een was The Hundred Year Old Man who Climbed out of the Window and Disappeared. Sy reis bring hom onder meer met misdadigers, verskeie moorde en ‘n tas vol geld in aanraking. Sonder dat hy dit so beplan, is hy by groot wêreldgebeure betrokke. Hy het byvoorbeeld ‘n aandeel in die ontwikkeling van die kernbom en ontmoet en beïnvloed wêreldleiers. Ek het lanklaas ‘n boek so geniet. Die situasies is vergesog, maar dit kon netsowel so gebeur het …
Die tweede boek The Secret Diary of Hendrik Groen, 83¼ Years Old was eweneens ‘n prettige boek om te lees, maar weliswaar met die hartseer realiteit van ouderdom. Die groepie vriende in ‘n tehuis vir bejaardes gedra hulle soms soos stout kinders en vang kattekwaad aan net vir ‘n bietjie opwinding in hul lewe, maar ‘n sterk band en begrip vir mekaar se probleme ontwikkel, soos Hendrik wat sy vriendin wat weens alzheimersiekte vinnig agteruitgaan op allerhande maniere help om haar dae te orden.
Toe leen ‘n kollega vir my die boek A man called Ove. Die arme man se geliefde vrou is oorlede en hy sien nie kans om alleen aan te gaan nie. Hy gaan sê ook kort-kort vir haar by haar graf dat hy eersdaags by haar gaan aansluit en beraam dan deeglik sy selfdoodpogings met soveel deeglikheid dat hy nie onnodig moeite sal maak vir die mense wat hom gaan kry nie en dat sy vrou darem nie skaam sal wees oor die gemors wat hy agterlaat nie. Maar telkens onderbreek iets of iemand sy pogings en terselfdertyd raak hy by sy bure betrokke, soveel so dat hulle later vir sy vrou moet gaan verduidelik dat sy hom ‘n bietjie kans moet gee, want hy moet eers een en ander doen.
Al drie boeke is met deernis vir die ouderdom geskryf, maar ook met die boodskap dat jy nog veel kan vermag voordat jy die dag regtig die tydelike met die ewige verwissel.
In my eie lewe het ek ook sulke formidabele “ou” familielede. My eie pa, wat 94 geword het, het altyd gesê hy gaan nog 100 word … en hy het dit amper gemaak. Die ouderdom was vir hom g’n struikelblok nie. Sy siening: Elke lewensfase het sy eie lekkertes, dalk kan jy nie meer doen wat jy tien jaar terug kon doen nie, maar nou kan jy weer goed doen en geniet wat jy nie toe kon nie.
My tannie van 86 skroom nie om saam met my op die bus te klim see toe nie en ek moet oppas of sy skop op die strand sand in my oë. En as sy nie voor die stoof staan en konfyt kook of vetkoek bak nie, sit sy voor haar masjien en maak goed om te verkoop. Sy stuur kort-kort vir my foto’s van nog ‘n deken wat sy gebrei of gehekel het.
En wat ‘n vreugde en voorbeeld toe my oom van 94 verlede week vir my ‘n vriendskapsversoek op Facebook stuur. Hy is nog voltyds by sy kerk se nuusbrief betrokke en is op die woonstelblok waar hy bly se bestuur.
Wat ek deur al hierdie fiktiewe karakters en my rêrige familie geleer het, is dat mens nooit te oud is om dinge te doen en die lewe te geniet nie, al word jou wêreldjie soms kleiner soos jy ouer word.
Dit laat my dink aan Frank Sinatra se lied: Live till I die
I’m gonna live till I die
I’m gonna laugh stead of cry
I’m gonna take the town turn it upside down
I’m gonna live, live, live until I die
They’re gonna say what a guy
I’m gonna play for the sky
Ain’t gonna miss a thing, gonna have my fling
I’m gonna live live live until I die
Those blues I lay low, I’ll make them stay low
They’ll never trail over my head
I’ll be a devil till I’m an angel
But until then hallelujah
Gonna dance, gonna fly
I’ll take my chance riding high
Before my numbers up I’m gonna fill my cup
I’m gonna live, live, live, live until I die
Kortliks: Doen goed wat jou plesier gee en leef solank daar lewe in jou is. En verskoon my nou, ek het truie om te gaan brei.
Ouma se blokkie
Maak 7 ks en gs in 1ste st om ring te vorm.
1ste rdte: 4 ks (tel as lb en ks), *1 lb, 1 ks, herh van * nog 10 keer, gs in 3de ks aan beg. 12 lb en ks.
2de rdte: 3 ks (tel as lb), 2 lb in ks-sp, *1 lb in lb, 2 lb in ks-sp, herh van rondom, gs in 3de ks aan beg.
3de rdte: 4 ks, 1 dubbelslagsteek in vlg lb, maar moenie lus deur laaste 2 ste trek nie, 1 dubbelslagsteek, maar moenie lus deur sy laaste 2 ste trek nie, sit draad om pen en trek deur al die steke op die naald, 5 ks, *(1 dubbelslagsteek in vlg lb, maar moenie lus deur laaste 2 ste trek nie) 3 maal, sit draad om pen en trek deur al die steke op die naald, 5 ks, herh van * rondom, gs in 4de ks aan beg.
4de rdte: *7 ks, 1 kb in dieselfde spasie aan bokant van dubbelslagtrossie (hoek), 7 ks, 1 kb aan bokant van vlg dubbelslagtrossie, 7 ks, 1 kb aan bokant van vlg dubbelslagtrossie, 7 ks, 1 kb aan bokant van vlg dubbelslagtrossie, herh van * rondom, gs in 1ste ks aan begin.
5de rdte: gs tot in 3de van 7 ks in hoek, *7 ks, 1 kb in dieselfde spasie, (7 ks, 1 kb in vlg 7 ks-sp) 3 keer, 7 ks, 1 kb in 3de van 7 ks in hoek, herh van * rondom, gs in 1ste ks aan beg.
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …