Willie Burger kyk na twee boeke wat jy maar gerus kan aanskaf
Willie Burger
Byna almal van ons het grootgeword of word steeds groot met ‘n huishulp in die huis, dalk iemand wat in ‘n kamer agter die huis woon en wat skoonmaak, kook en kinders versorg. Vir die meeste mense is hierdie saamleef met ‘n bediende/huishulp/ huiswerker ‘n onbevraagtekende vanselfsprekendheid van ons samelewing. Die huiswerkers is inderdaad, soos die titel aandui, in talle huishoudings byna soos ‘n familielid in die huis teenwoordig en talle mense erken dat hulle nie hul kinders sonder die huishulp sou kon grootmaak nie.
In haar omvangryke studie (475 bladsye), bied die bekende letterkundige Ena Jansen (voorheen van Wits en deesdae verbonde aan die Universiteit van Amsterdam), ‘n meesleurende verhaal oor die geskiedenis van stedelike huiswerkers. Die meeste lesers sal dadelik dink aan boeke soos Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena, die opspraakwekkende roman uit 1978 wat seker daartoe bygedra het dat baie mense vir die eerste keer oor die vanselfsprekende teenwoordigheid van ‘n huiswerker nagedink het, of die gewilde Katriena-verhale deur Riana Scheepers.
Jansen se versigtige analise van literêre tekste in Afrikaans en Engels, deur wit en swart skrywers, laat ‘n mens egter besef hoe baie huiswerkers in die literatuur voorkom. Maar haar ondersoek strek ook veel wyer en sluit mondelinge vertellings deur huishulpe oor hul ervarings in, en die ondersoek van talle ander bronne, van koerante tot geskiedenis- en sosiologiestudies. Die meeste mense wat fiksie lees, lees nie graag “literêre studies” óór fiksietekste nie. Baie kere word nie-akademiese lesers afgeskrik deur die akademiese taal van sulke studies en al die swaar teoretisering.
Ena Jansen se studie oor stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste is alles behalwe ‘n moeilik-leesbare studie. Dit is toeganklik, interessant en boeiend aangebied. ‘n Mens word deur hierdie verhaal meegesleur. Jansen gaan haal haar ondersoek van die verhoudings tussen huiswerkers en hul werkgewers (“base”) by die eerste nedersetting aan die Kaap, toe die Nederlanders dadelik Khoi-vroue as huiswerkers en kinderoppassers in diens geneem het. Kort hierna is slawe in dié rolle gebruik en die aard van die verhoudings wat in die eeue daarna tussen huisbewoners en hul huiswerkers bestaan het, is tot ‘n baie groot mate deur hierdie baas-slaaf-verhouding bepaal.
‘n Mens lees met herkenning en dan met skok hoe die verhoudings oor al die jare voortbestaan het. Jansen wys ook op die invloed van klasonderskeiding wat met die 1820-setlaars uit Brittanje hier aangeland het en eweneens ‘n groot invloed op die verhoudings tussen huiswerkers en hul werkgewers uitgeoefen het. Elkeen behoort Soos familie – Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste te lees – dit stem tot nadenke oor hierdie besonder intieme en enersyds liefdevolle verhoudings, wat andersins dikwels ook uitbuitende en vernederende verhoudings is.
‘n Mens is verbaas oor hoeveel jy kan identifiseer met talle van die huiswerkers se vertellings, met van die beskrywings in fiksie, en neem ook met ontsetting kennis van baie aspekte van die intieme verhoudings. Steinmair en Taljaard het 46 bangmaakstories by verskillende skrywers gekry – gesoute en bekende skrywers soos Marié Heese, Kerneels Breytenbach, Jaco Jacobs, Henning Pieterse, Derick van der Walt en RR Ryger, maar ook van heelwat jonger skrywers se debuutwerk. Wat al die stories deel, is dat hulle grieselrig is. Soos ‘n mens kan verwag, is daar baie verhale oor bonatuurlike verskynsels: konfrontasies met spoke en gedaantes. Talle van die ander verhale gaan oor die angswekkende dinge wat mense aan mekaar kan doen. Al die verhale het egter in gemeen dat hulle op ‘n manier jou hare laat rys – soms weens die weersinwekkende aard daarvan, soms omdat jy gewoon skrik vir die onthulling.
Skrik op die lyf is nie die boek om by kerslig te lees as jy tydens beurtkrag alleen tuis is nie!
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.