Bydraes uit die wêreld van klassieke musiek, rolprente, TV en teater word met die Classic Brits bekroon
Deur JOHAN MYBURG
Een van die byvoordele van die TV-uitsending van die koninklike troue van die Britse prins Harry en Meghan Markle was die publisiteit wat die jong tjellis Sheku Kanneh-Mason gekry het. Kanneh-Mason het ná die troue, toe die bruidspaar die register teken, drie bra elegiese werke vir só ’n geleentheid – Maria Theresa von Paradis se Sicilienne, Gabriel Fauré se Après un rêve en Franz Schubert se Ave Maria, saam met ’n orkes onder leiding van Christopher Warren-Green gespeel.
Die 19-jarige Kanneh-Mason, ’n student aan die Royal Academy for Music in Londen, het egter ’n maand of wat ná die troue weer die kollig gesteel: dié keer by die 2018 Classic Brit Awards in Londen se Royal Albert Hall. Die prysaand van die Classic Brits, die ekwivalent van die Pop Brit Awards, het in Junie plaasgevind. Bydraes uit die wêreld van klassieke musiek, rolprente, TV en teater word met die Classic Brits bekroon. Dié pryse is ná ’n afwesigheid van vyf jaar nou weer vir die eerste keer toegeken. Kanneh-Mason is by dié geleentheid as die beste manskunstenaar aangewys én hy het ook die resensenteprys gekry.
Sy talent is al in 2016 raakgesien toe hy as die BBC Young Musician of the Year aangewys is. Intussen het hy ook by die Baftas en die Proms opgetree en ’n album, Inspiration, uitgereik – een wat boonop besonder goed verkoop. Die CD sluit musiek in waarvan die jong Kanneh-Mason hou: van Sjostakowitsj tot Bob Marley. Kanneh-Mason is een van sewe kinders wat elkeen ’n instrument met ’n hoë mate van bekwaamheid bespeel. Dit was die Jacqueline du Pré-opname van Edward Elgar se tjellokonsert wat hom laat besluit het om die tjello as instrument te kies. In die kategorie vrouekunstenaar van die jaar is die Amerikaanse sopraan René Fleming as wenner aangewys.
LEES OOK: Klassieke klanke: Edvard Grieg
Fleming het benewens haar rol in Carousel op Broadway ook aan die klankbaan vir die rolprente The Shape of Water en Three Billboards Outside Ebbing, Missouri gewerk. Die Britse duo Michael Ball en Alfie Boe is as groep van die jaar aangewys en hul CD Together Again het die Classic FMprys vir album van die jaar gekry. Dié CD volg op hul eerste CD saam, Together. Lord Andrew Lloyd-Webber is met ’n spesiale erkenning vir sy bydrae tot musiekteater en -onderrig vereer. Die Italiaanse sanger Andrea Bocelli is as Classic Brit-ikoon vereer. Bocelli se roem ken geen einde nie. Hy ís een van die topverdieners in die bedryf, met verkope van meer as 80 miljoen albums.
Nietemin het ’n resensent van The New York Times die spyker op die kop geslaan toe hy ná ’n Bocelli-uitvoering saam met die New York Philharmonic in 2006 geskryf het “Mnr Bocelli is nie ’n baie goeie sanger nie: Die klank is krakerig, dun en in die algemeen swak ondersteun. Dit tel in sy guns dat Bocelli meestal op die noot is.” Maar, soos die Romeine al gesê het: Smaak verskil. Op 101 is dame Vera Lynn vir haar lewensbydrae tot die Britse musiekbedryf vereer. Dame Vera het tydens die Tweede Wêreldoorlog as die Forces’ Sweetheart roem verwerf. Ná ’n loopbaan van talle jare het sy in 2009, op 92, die oudste Britse kunstenaar geword wie se album, We’ll Meet Again: The Very Best of Vera Lynn, bo-aan die Britse treffersparade vir albums was.