Willie Burger kyk vandeesweek na fiksie en die manier waarop ons mense en onsself verstaan
Om na te dink oor hoe karakters in fiksietekste is, is om na te dink hoe dit is om mens te wees en oor wat persoonlike identiteit is. Eintlik word daar in alle romans vrae gevra oor identiteit en die manier waarop elkeen mens is. Is ’n mens se identiteit ’n gegewe, of word dit gevorm? Het ’n individu ’n keuse om iets anders te word as wat hy is, of is elkeen ’n slagoffer van omstandighede en gene? Word ’n mens se identiteit deur jou idees bepaal?
Van die bekendste reëls uit ’n Afrikaanse roman kom seker uit Van Melle se Bart Nel (1951): “My kry hulle nooit,” sê Bart. “Ek is Bart Nel van toe af, en ek is nog hy.”
Bart sê dit natuurlik baie naby aan die einde van die roman. Heel aan die begin probeer sy vrou hom keer om na ’n rebellevergadering te gaan. Hy antwoord haar: “As ek nie ook gaan protesteer nie, dan wil ek nie meer my naam hê nie. Dan wil ek nie meer Bart Nel wees nie.”
Om Bart Nel te wees, is om aan ’n vaste innerlike self getrou te bly. Die gedagte hieragter is dat ’n mens eintlik ’n vaste identiteit het en die ideaal is om getrou daaraan te wees. In veral die ouer Afrikaanse prosa, soos in die meeste 19de eeuse Europese romans, word identiteit dikwels as so ’n vaste gegewe beskou.
In ander romans word die invloed van sosiale omstandighede op die vorming van ’n karakter se identiteit beklemtoon. Doris, in Jeane Goosen se Ons is nie almal so nie (1991), word bepaal deur die rolle wat sy in die gemeenskap speel – as dogter, as eggenote, as ma, as lid van ’n sekere klas en ras. Doris is op soek na geluk en na sin in haar bestaan: “Jou ma is ’n soeker,” sê haar suster vir Gertie.
Doris is in die kleinburgerlike bestaan vasgevang wat deur die patriargie (eers haar pa en later haar man, Piet) aan haar opgedwing word. Sy is in opstand hierteen deur skelm te drink, te rook, deur vriende te hê wat hulle nie aan die konvensies van die gemeenskap steur nie, deur ’n buite-egtelike verhouding met Barnie aan te knoop en later deur ’n dolle gejaag na spiritualiste, mediums en godsdienste. Reeds as kind het Doris na ’n verbeeldingswêreld ontvlug waarin sy die Tsaar se verlore dogter is en as volwassene identifiseer sy met rolprentkarakters in ’n poging om uit haar wêreld te ontsnap.
Sy slaag egter nie daarin om uit haar omstandighede los te kom nie. Doris se identiteit is nie ’n vaste innerlike gegewe soos Bart s’n nie, maar word deur haar sosiale omstandighede bepaal.
In André Brink se Duiwelskloof (1998) lyk dit asof identiteit, ten spyte van die vorming daarvan deur omstandighede, tog kan verander. Die hoofkarakter, Flip Lochner, se lewe is ’n mislukking. Hy het nie ’n sukses van sy loopbaan gemaak nie, was ’n swak pa vir sy kinders en sy huwelik is op die rotse. Sy laaste poging om iets sinvols met sy lewe te doen, loop ook skeef. Hy kom egter tot die insig dat die manier waarop ’n mens jou storie vertel, jou identiteit bepaal: “En ek dink: met die leuens van stories – al die leuens, al die stories – maak ons onsself soos wat die eerste mens uit die klei van die aarde gemaak is. Want dit is ons eerste en laaste klei.”
Ten spyte van al sy mislukkings, besef hy dat sy lewensverhaal ook anders vertel kan word. En ’n hervertelling lei daartoe dat hy uiteindelik ook anders optree.
In André Letoit se Suidpunt-jazz loop een van die hoofkarakters eendag na ’n kafee en kry daar ’n man wat besig is om te skryf. Tot sy ontsteltenis ontdek hy dan dat die man ’n romanskrywer is en dat hy een van die karakters in ’n roman is. Hy ontmoet ook ander karakters van die skrywer en een van die karakters wil weet wat hy “tussen boeke” moet doen.
Op hierdie manier word die leser daaraan herinner dat die karakters nie “mense van vlees en bloed” is nie, maar dat hulle almal net in boeke bestaan. Die idee dat karakters mense is, met vaste identiteite of identiteite wat deur die sosiale omstandighede bepaal word of wat deur ’n hervertelling verander kan word, word hierdeur ondermyn. ’n Heeltemal ander manier van kyk na ’n mens, as iemand wat eintlik deur taalgebruik bepaal word, word hierdeur moontlik gemaak.
Uiteindelik wys hierdie voorbeelde hoedat ons opvattings oor hoe ons is en wie ons is, ondersoek word deur die manier waarop fiksiekarakters bestaan. Vk