Daar is vir my ’n paar eienskappe in mense waaraan ek groot waarde heg. Sonder uitsondering deel elke vrou in die VK-span dié eienskappe
Wat is die gedagte wat by jou opkom as ek sê: “Sy is regtig eienaardig?” ’n Eienaardige persoon word as vreemd, anders en “nie normaal nie” gekategoriseer. Om “eienaardig” te wees, word dus nie in ’n positiewe lig gesien nie – dié woord word in ’n veroordelende en neerhalende lig gebruik.
Maar dié woord word deur die meeste mense verkeerd verstaan, gebruik en toegepas. Volgens Pharos se verklarende woordeboek beteken eienaardig: “Van besondere aard of karakter; buitengewoon; sonderling.” Dié (regte) verklaring beteken iets anders as hoe dit algemeen gebruik word om mense te beskryf. As iemand na my verwys as eienaardig (en baie doen dit), is dit vir my ’n reusekompliment, want ek interpreteer dit volgens die regte verklaring.
Ek was, is en gaan nooit ’n kuddedier wees wat maar net soos die res van die trop lyk, dink en doen nie. Ek is eienaardig en ek werk saam met ’n klomp eienaardige vroue. Die VK-span bestaan net uit vroue. Ons hou van verskillende mode- en dekorstyle. Ons luister na verskillende musiek en kyk nie almal na dieselfde flieks nie. Ons lees verskillende boeke. Ons dink nie oor alles uniform nie, glo nie almal dieselfde nie, en tree nie almal dieselfde in ’n gegewe situasie op nie. Ons is almal eienaardig. Soos dit veronderstel is om te wees. Dit sou uiters saai en vervelig gewees het as ons “uni-aardig” sou wees. Met dié vroue bring ek die grootste deel van my dag deur.
En vir ’n beter werksomgewing kon ek nie vra nie. Komende van my is dit nogal iets. Ek het net drie broers en was nooit op skool een van daai meisies wat ’n “beste vriendin” gehad het nie. Meisies het my eintlik meer geïrriteer as iets anders. In my wêreld het ek gewoon meer interaksie met seuns gehad. En hier moet jy my nie misverstaan nie – ek was gewis nie die gewilde meisie wat alle seuns gewens het, stel in hulle belang nie. Daarvoor was ek heeltemal te eienaardig en “unglamerous”. Ek het net meer van seuns gehou – hulle het net minder geite as meisies gehad en het boonop nie geskinder nie.
En hier sit ek vandag tussen (net) ’n klomp vroue met wie ek so goed saamwerk. Hoe werk dit? Wel, ek is nie meer op skool nie en het geleer dat ongeag enige geslagtelikheid, daar gawe en ongawe mense is en mense met wie ek kan identifiseer en met wie ek nie kan nie. Daar is vir my ’n paar eienskappe in mense waaraan ek groot waarde heg. Sonder uitsondering deel elke vrou in die VK-span dié eienskappe. ’n Sin vir humor, geesdrif, ’n positiewe ingesteldheid, medemenslikheid, eerlikheid, opregtheid, nederigheid, werksetiek, verantwoordelikheid, hulpvaardigheid, empatie, kortom, integriteit. En dít is vir my deurslaggewend. Dis hierdie week Vrouedag en hierdie jaar dra ek dié dag op aan elke vrou in die span saam met wie ek vir wie die afgelope agt jaar werk. Eienaardige vroue wat ek goed leer ken het, elke dag by leer en wat ek gewoon liefhet.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.