Deesdae het tot laerskoolkinders al selfone. As dit saam skool toe gaan, kan dit ’n probleem wees. Tog is daar ook voordele
Saamgestel deur IZETTE BLIGNAUT
Stephen Corbett, hoof van opvoeding- en kinderstudies aan die Universiteit van Portsmouth in Brittanje, sê selfoontegnologie het sy voor- en nadele.
Volgens sy artikel op www.theconversation.com, word daar deesdae toenemend kommer uitgespreek oor slimfone se impak op ons gesondheid, gemeenskap en opvoeding.
In Brittanje is daar ook al voorgestel dat selfone in skole verban moet word.
Matt Hancock, ‘n Britse kultuur-LP, wat in beheer van digitale beleid is, sê: “Studies het bewys dat selfone ’n ware impak op jou werkende geheue het, selfs al is jou foon op ’n tafel of in jou sak. Ek het al gesien hoe selfone ’n impak op klaskamers het. Dis ’n nuwe vorm van problematiese optrede wat beheer moet word.”
Stephen sê aan die ander kant bied selfone ook kreatiewe maniere vir klasgee.
“Dis ’n geleentheid om nuwe innoverende leerstrategieë te bevorder. Dit gee die studente toegang tot ’n kennisbasis wat baie verder as net die klaskamer strek. Party onderwysers gebruik interaktiewe leeraktiwiteite soos die platform Kahoot! Dit is gratis, maar is afhanklik van die studente se toegang tot selfone. Ander spoor hulle studente aan om hul navorsing op hul selfone te doen as daar nie rekenaarfasiliteite naby is nie.”
Dit bring ook egter ander komplikasies na vore. Onderwysers gaan byvoorbeeld nie weet of leerders die internet vir navorsing of vir sosiale media gebruik nie.
“Onderwysers is onder geweldige druk. Tegnologie ontwikkel teen ’n indrukwekkende spoed en daar word van onderwysers verwag om of, ’n oplossing, of ’n aksieplan te hê. Dan is daar nog druk om die vrede in die klas te handhaaf en die kinders se punte op standaard te kry. Dit los min ruimte vir die uitvoering van al hierdie planne.”
Dit kan egter nie werk om selfone te verban nie, skryf Stephen.
“Hoe gaan onderwysers eerstens seker maak dat kinders nie selfone in die klas invat nie? En dit is boonop ’n korttermynoplossing. Dit help nie ons volgende generasie nie. Opvoedkundiges is verantwoordelik om die kinders gereed te maak vir die toekoms. Om vir hulle inligting oor te dra is nie genoeg nie, daar moet seker gemaak word dat hulle reg is vir die volgende gedeelte van hul lewe.”
’n Beter idee!
Of ons nou selfoontegnologie aanvaar of nie, dis ’n fundamentele gedeelte van die moderne wêreld, sê Stephen.
“Vandag se studente gaan eendag werke hê wat van tegnologie afhang en hulle moet weet hoe om dit wys en reg te gebruik. Die oplossing is nie verbanning nie, maar opvoeding. Hierdie gaan nie maklik gebeur nie, maar as ons die werksplek van die toekoms skep moet ons bewus wees van hoe ons die studente deel daarvan gaan maak. “Eindeksamenresultate is belangrik, maar so ook die veilige en korrekte gebruik van tegnologie. Asook selfdissipline en tydsbestuur as dit by die gebruik van sosiale media kom. Dit gaan oor die regte tyd en plek vir ’n selfoon.
“As ’n skoolkind, sou ek graag die geleentheid wou hê om my selfoon te hou en vertrou word dat ek dit korrek kan gebruik. Aan die ander kant sal ek graag wou leer hoe om my selfoon toepaslik en reg te kan gebruik en leiding by my onderwysers te kry.
“As ’n ouer sal ek dit waardeer as iemand anders my kinders oplei en leer hoe om hul selfone op die beste manier te gebruik en nie soos ek heeltyd vra: ‘Hoekom is jy al weer op jou foon?’ nie!”
Stephen sê slimfone is hier om te bly en het baie opvoedkundige eienskappe. Dit bevat verskeie hulpmiddels, ’n groot ensiklopedie en ‘n berekenaar. Hoekom sal enigiemand dit in ’n skool verban?
Hierdie artikel het eerste op www.theconverstation.co.za verskyn